Pieter van Dalen praat oor die seelewe, natuurbewaring en stropers

pierre-massyn-saam-met-pieter-van-dalen

Pieter van Dalen (regs) en Pierre Massyn. Van Dalen is die DA se skadu-minister van bosbou, landbou en visserye. Hy het spesiaal na Gordonsbaai gery om die onderhoud aan Massyn toe te staan. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Manalleen staan hy op teen die vernietiging van ons seelewe. Agter die skerms baklei hy vir natuurbewaring teen politici met verskuilde agendas en korrupte amptenare.

Pieter van Dalen is nie bang nie. Keer op keer is dit hy wat kaalvuis op die hoogste vlakke en op staande komitees ingryp teen die skokkende vergrype teen die natuur. Dit is hy wat wanpraktyke en vergrype soos stropery tot op die been oopvlek.

In die lig van die disfunksionaliteit van die departement van landbou, bosbou en visserye, het Pieter van Dalen, die DA se skaduminister van dié omstrede portefeulje, hierdie eksklusiewe onderhoud aan Maroela Media toegestaan. Pieter van Dalen is besig. Sy volgende vergadering wag. Hy het net ’n halfuur tyd voor sy volgende afspraak, maar hy ry spesiaal Gordonsbaai toe om my te woord te staan.

Volgens die waghondorganisasie Groundup, verkeer die visseryowerhede in ’n staat van algehele krisis. Midde-in hierdie krisis duik die naam van Tina Joemat-Pettersson, die voormalige minister van bosbou, landbou, en visserye herhaaldelik op. Haar naam verskyn ook in ’n artikel getiteld “Skokkende feite oor die uitwissing van ons natuur” (Maroela Media 2 November 2018). Op 14 November 2018 dra die nasionale media ’n berig met die opskrif “Fisheries Department Rotting from the Top.”

Ek skop af met ’n inswaaier. “Mnr. Van Dalen, hierdie departement vervul ’n kritieke rol in die beskerming van ons seebronne, maar het in talle opsigte gefaal. Wat is, volgens u, die redes hiervoor?”

Pieter Van Dalen haal diep asem. “ Die belangrikste redes hiervoor is, onder meer, korrupsie, ’n ondoeltreffende amptenary en individue, waarvan die ego’s so groot soos kastele is in sleutelrolle, soveel so dat hulle hul pligte skandalig versaak.”

“Vertel my meer,” por ek hom aan.

“Wel, daar was die kwessie van twyfelagtige viskwotas wat Joemat-Pettersson uitgereik het. En ’n duister vispatrolliekontrak wat sy aan ook Sekunjalo gegee het. Sekunjalo behoort aan ene Iqbal Survé wie se bona fides ook nie aldag bekend is nie.”

“En watter rol speel sogenaamde swart bemagtiging in die huidige krisis?”

Van Dalen se toegewydheid aan hierdie saak blyk uit die feit dat hy elke oggend van sy lewe om vyfuur opstaan om te begin werk. Hy verduidelik:

“Hierdie departement het eens op ’n tyd – sê tot 1992 – sy werk verantwoordelik gedoen en sy pligte uitgevoer. Hy het minstens gefunksioneer. Wat gebeur het, is dat daar ’n uittog was van gekwalifiseerde en toegewyde personeel, soos byvoorbeeld topwetenskaplikes. Sonder die regte mense aan boord, kan jy vergeet. Verkeerde aanstellings is toe gemaak en van hulle was korrup. Daar is geen ander manier om dit te stel nie.”

Die gesprek raak ernstig. “Ek moet die vraag vra, Pieter. Die regeringsprogramme is veronderstel om die agtergeblewenes en arm gemeenskappe op te hef en te help. Gebeur dit?”

Van Dalen van Gansbaai se antwoord is weldeurdag: “Volgens my het die regering se programme waarna jy verwys, grootliks nie aan die oogmerke waarvoor hulle bedink is, voldoen nie. Die arm gemeenskappe is nog steeds arm. Inteendeel, die regeringsprogramme het nou ontaard in ’n teelaarde vir kreef- en perlemoenstropery op ’n ongeëwenaarde skaal.”

“En behalwe Me. Joemat-Pettersson, watter ander individue is die grootste sondaars?”

“Pierre, daar was reeds name in hierdie verband in die publieke domein, dus kan ek hulle sonder vrees vir teenspraak aan jou noem: Daar was die direkteur-generaal, Mike Miengana en sy adjunk, Siphokazi Ndudane. En dan die minister, Senzeni Zokwana. En so kan ek aangaan. Hierdie einste Zokwana is die gewese president van die Nasionale Mynwerkers-Vakbond – die National Union of Mineworkers (NUM). Hieruit alleen kan jy jou eie afleidings maak en ek weet jy het reeds. Die departement was as’t ware lamgelê deur ’n interne magstryd tussen hierdie drie rolspelers en andere. Die staat het miljoene op regshulp vir hierdie individue na die een of ander kant toe spandeer.”

“En intussen is daar van wetstoepassing geen sprake nie – ons sien nie meer die Sarah Baartmanpatrollieboot nie.”

“Ja, my vriend, dit maak my seer om jou gelyk te gee, Maar dit is hoe dit is. Dis vir my ’n kwessie van nasionale veiligheid, Dis niks anders as ’n nasionale bedreiging dat ons hawens nie gemoniteer word nie. Vir 23 jaar is daar nog nie ’n enkele konka of houer in ’n hawe oopgemaak vir inspeksie nie. Jy kan jouself indink watter geleenthede dit vir ongerymdhede en smokkelaktiwiteite skep. ”

Nou delf ek dieper: “Ons is nou midde-in ’n staatskapingsondersoek. Sal van die ongerymdhede aan die kaak gestel word, volgens jou?”

“Ja, staatskaping, in die departement van bosbou, landbou en seevisserye wissel die probleme van omkopery tot selfverryking. Amptenare wat kop in een mus is met perlemoenstroping-sindikate. Dis ’n nagmerrie. Ons hoop van die goed kom uit en dat ons kan skoonmaak en van vooraf kan begin.”

“Wat staan ons te doen, Pieter?”

“Kyk, my sienswyse gaan ’n opskudding veroorsaak as jy dit sou publiseer, maar volgens my moet alle hawens in die Wes-Kaap onmiddellik onder die Wes-Kaapse regering geplaas word. Ons het tans geen begroting om iets vir die see te doen nie, Dit lê by die nasionale regering en daar heers ’n kultuur van ‘herverspreiding van rykdom wat jou outomaties die reg gee om te stroop’.”

Maar hoe het hierdie passievolle man betrokke geraak by wat ons al die jare as seevisserye, oftewel kusbestuur geken het?

“Ek het in 2005 die DA-tak op Kuilsrivier gestig omdat ek nie net kon stilsit en kyk hoe daar gesteel en geroof word nie en die owerhede en die regering van die dag doen nie wat hulle behoort te doen nie. Kuilsrivier was ’n ANC-wyk, maar ek het hom in 2006 gewen met 8 000 stemme teen 1 000.

Ek ken elektrisiteit en het kabeldiefstalle in sy spoor gestop. Ek het dit gedoen met net 12 manne en goeie speurwerk. Ek het later geweet as hulle ’n gat grawe, is dit net vir een ding en dis om kabels te steel en aan die skrootwerwe te verkoop! Ek kan jou sê ’n maatskappy met die naam van SA Metal in Epping was van die grootste aankopers van gesteelde kabels. Ek het die diefstal van R22 miljoen tot skaars ’n halfmiljoen afgebring.

Toe beland ek in die parlement ná ek van Stad Kaapstad-vlak tot nasionaal gespring het. My kiesafdeling, as jy dit so kan noem, is eintlik Matzikama naby Vredendal, ’n moeilike gebied om in te werk. My opgang het begin in dieselfde tyd toe Helen Zille burgemeester geword het. EK was eers Openbare Ondernemings se adjunk-skaduminister. Toe plaas Tina ’n foto van haarself op Facebook waar sy staan en spog met ’n kabeljou wat vir my aan die klein kant gelyk het. Toe dink ek by myself maar dis mos onaanvaarbaar. Ek het besef daar is êrens ’n groot skroef los en ek blaas die fluitjie. ’n Maand later het hulle my gevra om skaduminister van die ou kusbestuur, oftewel seevisserye te word. Ek glo ek maak ’n verskil. Hulle is lugtig vir my. Dis nie in my geaardheid om anderpad te kyk nie. Ek is nou ’n ervare skaduminister wat die hele stelsel in my slaap kan opsê. As die DA eendag wen, sal jy ’n ander storie sien. Ek sal byvoorbeeld my eie kontrolestelsel met my eie beheerkamers in werking stel. Intussen sal ek die fluitjie aanhou blaas.”

Die ontbyt daag op. Pieter doen vir ons ’n tafelgebed. Hy glo, dit kan ek sien. Ek vra hom uit oor sy geloofslewe. Sy antwoord strek diepliggend en laat my nadink.

“Oor 85% van jou lewe het jy nie beheer nie. Slegs oor 15%. Die 85% dra ek aan God oor. Dit beheer Hy.”

Ons gaan voort met die onderhoud. “Hoe lank vat dit vir ’n perlemoen voor hy kan voortplant?”

“Sewe jaar. Dan duur dit 15 jaar voor ’n perlemoen wasdom bereik.” Vir ’n oomblik heers daar ’n stilte tussen ons. Dan nog ’n skrikwekkende stukkie statistiek:

“Stropers haal jaarliks 8 000 ton perlemoen uit die see. Hiervan word 800 ton met baie geluk teruggevind. Maar die polisie kan nie eens hul eie perlemoen oppas nie. Dié word ook gesteel!”

“En intussen het die sogenaamde groen howe en Neptune ’n natuurlike dood gesterf?

Nog ’n skokkende antwoord: “Die ding sny dieper as wat jy besef. My bronne beweer dat die voormalige president self geïnkrimineer was in die perlemoenstropery. As dit so is of was, sou dit hom gepas het om Neptune en die groen howe (1) van die radar te laat verdwyn. Maar die omgewingshof in Hermanus mag darem moontlik heringestel word. Die minister begin al darem daarvan praat nadat ek hom lank bearbei het.”

“Hier op die suidpunt sê ek al jare lank daar is ’n direkte verband tussen dwelms en perlemoen.” (2)

“Volkome korrek. Dis soos die twee kante van dieselfde muntstuk. As jy die dwelmbase vastrek, perk jy die stropery ook onmiddellik in.”

Van Dalen is miskien in die parlement van Suid-Afrika ’n stem wat roep in die wildernis. En dis ook nie in sy aard om tou op te gooi nie. Maar hy staan darem nie altyd vingeralleen in die geveg nie. Aan sy skouer is sy inspirerende vrou, Erica. Sy is in die polisie en haar teenwoordigheid daar help Pieter in sy nimmereindigende stryd teen plundery, misdaad en korrupsie. Hul vreugde is hul twee dogters, Leandré en Marja.

Net voor die afgeknypte tyd vir die onderhoud verstryk het, onthul hierdie formidabele kampvegter dat die FBI (Federal Bureau of Investigation van die VSA) hom kom sien het oor ’n innovasie vir inspeksie waarvolgens suurstof uit ’n konka onttrek kan word om dan geanaliseer te word sodat die inhoud van die houer vasgestel kan word. Mens kan aanhou hoop…

En hoe vind mens oplossings vir die aanhoudende stroperkatastrofe?

Pieter se antwoord is eenvoudig: “Bemagtig die stropers en gee elkeen sy eie stuk see wat hy kan bestuur!”

Ek kan nie wag vir die dag dat hy minister van bosbou, landbou en visserye word nie.

Voetnote:

  1. Neptune was ’n teenstropingseenheid wat aanmerklike sukses behaal het. Politieke inmenging het egter hierdie effektiewe taakmag gekelder. Dieselfde lot het die sogenaamde groen (maritieme) howe, wat spesifiek met omgewingsaangeleenthede gewerk het en waarvan daar een op Hermanus was, te beurt geval.
  2. Op Struisbaai-Noord is daar onheilsneste wat bekendstaan as smokkelhuise. Hulle is bronne van tik en ander dwelms. Feitlik sonder uitsondering bereik die tentakels van die perlemoensindikate hierdie smokkelhuise of is dit bewese stropers wat die smokkelhuise begin. Dit het ’n kettingreaksie in die breë gemeenskap. Meisies so jonk soos 13, verslaaf aan dwelms, onderwerp hulself aan prostitusie om hul afhanklikheid van veral tik te finansier. Massyn het hierdie saak meer as twee jaar gelede onder die aandag van Paul Swart, die huidige burgemeester van die munisipaliteit Kaap Agulhas, gebring toe hy die eerste media-onderhoud met mnr. Swart gevoer het. Die dwelmmisbruik onder die jeug op die Suidpunt van Afrika het sedertdien hand oor hand toegeneem. Perlemoenstropery duur onverpoosd voort.
  •  Pierre Massyn is ’n oudjoernalis, natuurbewaarder en skrywer. Vir hierdie onderhoud het hy enkele navorsingselemente uit Poacher: Confessions from the Abalone Underworld deur Kimon de Greef en Shuhood Abader gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae