Feestyd-doendinge: Markdag in Johannesburg

Bryanston se Organiese en Maanligmark.

Van koeksisters, juwele, speelgoed en mooi lap tot biltong, tuisgemaakte konfyt, heuningkoeke en hope atmosfeer. Suid-Afrika spog met heerlike naweekmarkte en dit is ook dalk net die regte plek om ‘n unieke Kersfeesgeskenk te gaan uitsnuffel. Koop plaaslik en handgemaak hierdie Kersfees by een van dié vyf Johannesburgse markte.

 

Bryanston se Organiese en Maanligmark

Hierdie mooi buite-mark is in 1976 gestig. Dit bied vars kosse wat organies gekweek is, asook handwerkprodukte soos klere, geskenkies en juweliersware. Alles by hierdie mark word van natuurlike materiale gemaak. Bo en behalwe die 140 stalletjies wat natuurlike produkte verkoop, is hier ook musiekvertonings, doendinge vir kinders en vier eetplekke. Die mark se Maanligmark word tot 18 Desember, elke Dinsdag van 17:00 tot 21:00 aangebied.

  • Waar: 40 Culrossstraat, Bryanston
  • Wanneer: Dinsdae en Saterdae vanaf 9:00 – 15:00. Maanligmark elke Dinsdag van 17:00 – 21:00 tot 18 Desember.

 

Neighbourgoods: Waar die bure saamkuier

Heerlike eetgoed is te koop by die Neighbourgoods-mark.

Die mense, die kos, die energieke atmosfeer. Die gewilde Neighbourgoods-mark in Braamfontein, Johannesburg is ’n luilekker kosmark wat voorsiening maak vir elkeen se dieetvoorkeur met ’n groot verskeidenheid smulgoed. Besoek hulle op Saterdae en proe gerus die Ethiopiese Teaf Enjara of Love Me So se Beef Takati.

  • Waar: Jutastraat 73, Braamfontein
  • Wanneer: Saterdae van 9:00 – 15:00

Kaapstad het ook ‘n Neighbourgoods-mark  by The Old Biscuit Mill,  Albertstraat 373 – 375 in Woodstock, op Saterdae van 9:00 – 14:00.

Fourways Boeremark

Die Fourways Boeremark is ‘n uitstappie vir die hele gesin.

Hierdie juweel van ’n mark is weggesteek in die middel van Fourways, oorkant Monte Casino. Die hooibale is uitgesit en musikante sing en tokkel kitare terwyl jy deur die stalletjies loop – behalwe top-gehalte kos, verwag unieke produkte van strikdasse en klere tot juwele en ’n lekker uitstappie vir die hele gesin. Die mark bied hulle tradisionele Kersfeesnagmark op 7 en 8 Desember en weer op 14 en 15 Desember van 15:30 – 22:30 aan.

  • Waar: Hoek van William Nicol-rylaan en Montecasino Boulevard, Fourways
  • Wanneer: Sondae, 9:00 tot 16:00

 

The Stables Sunday Merry Market

Maak gerus ‘n draai by The Stables dié feesseisoen.

Kom vier die feesgety by hierdie mooi Kersfeesmark met sy meer as 120 stalletjies. Bring gerus vir Brakkies (aan ’n leiband) saam, want die mark is hondevriendelik. Van lipaflekkerkos en geskenke tot ’n springkasteel en ’n sjampanje-kroeg.

  • Waar: Derdestraat 212, Chartwell
  • Wanneer: 9 Desember 10:00 – 17:00

 

Kersfees-nagmark

Sylvia’s Market se Kersversierings.

Sylvia’s Market bied ’n Kersfeesmark aan met enigiets van unieke handgemaakte geskenke tot vars groente en vrugte. Dis ’n plek waar jonk en oud kan kom snuffel met lewendige musiek in die agtergrond.

  • Waar: Frederickstraat 5, Observatory, Johannesburg
  • Wanneer: 15 Desember 17:00 – 22:00 en 16 Desember 10:00 – 17:00

 

Lees meer oor markte op ander plekke in die land:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.