Feestyd-doendinge: Markdag in Kaapstad

Kom snuffel by die mark in Pinelands. Foto: Pixabay.

Van koeksisters, juwele, speelgoed en mooi lap tot biltong, tuisgemaakte konfyt, heuningkoeke en hope atmosfeer. Suid-Afrika spog met heerlike naweekmarkte en dit is ook dalk net die regte plek om ’n unieke Kersfeesgeskenk te gaan uitsnuffel. Koop plaaslik en handgemaak hierdie Kersfees by een van dié vyf Kaapstadse markte.

 

Pinelands Handwerk- en geskenkemark

Naaldwerk, glaswerk, Kersfeesornamente, boeke, klere, kinderklere, meubels, plante en nog baie meer. Bring die hele gesin om hierdie inkopie-wonderwêreld te ervaar.

  • Waar: Kent Hall, Pinelands Hoërskool, Forest Drive, Pinelands, Kaapstad
  • Wanneer: Elke dag tot 22 Desember, 9:00 – 19:00

 

Simply South se geskenkemark

Simply South se geskenkemark. Foto: Pixabay.

Simply South se handwerk- en geskenkemark bied ’n verskeidenheid kwaliteit produkte aan, alles onder een dak. Dis die perfekte plek om ’n unieke Kersfeesgeskenk vir die kerskous te koop.

  • Waar: NG Kerk Constantia, Bergvliet, Kaaptad
  • Wanneer: Elke dag tot 22 Desember

 

Milnerton-vlooimark

Die Milnerton-vlooimark. Foto: Pixabay.

Hierdie buitevlooimark is ’n skatkis van versamelstukke en karaktervolle oudhede. Die Milnerton-vlooimark is die ideale plek vir iemand wat op soek is na tweedehandse meubels of ornamente.

  • Waar: 126 Marine Rylaan, Paardeneiland
  • Wanneer: Saterdae 8:00 – 14:00 en Sondae 8:00 – 15:00.

 

Oranjezicht-stadsmark

Kom maak ‘n draai by die Oranjezicht-stadsmark. Foto: Pixabay.

Aan die voet van Tafelberg is die Oranjezicht-stadplaas wat deur ’n klomp plaaslike inwoners begin is en waar heerlike gesonde en organiese produkte gekoop word. Kom drentel deur die stalletjies of kom pluk jou groente – laat die mooi groentetuin jou sommer inspireer om ’n stukkie tuin op jou erf as groentetuin in te span. Kinders is welkom en jy kan gerus jou hond (aan ’n leiband) saambring.

  • Waar: Granger Bay in die V&A Waterfront, Kaapstad
  • Wanneer: Saterdae vanaf 9:00 – 14:00 en Sondae 9:00 – 15:00

 

Blue Bird se Kersfeesmark

Verlekker jou in al die mooi goed by Blue Bird se Kersfeesmark. Foto: Pixabay.

Een van daardie spesiale markte wat ’n verskeidenheid eklektiese en plaaslike artisan-produkte aanbied. Die bakker en die slagter is daar! Hier is ook spasie vir jou en jou viervoet-kind om die feestyd en kreatiwiteit te vier.

  • Waar: Blue Bird Garage, Albertynstraat 39, Muizenberg
  • Wanneer: Elke Vrydag 16:00 – 22:00

Trots uit die Kaap

Claremont-plesiertjies. Foto: Pixabay.

By Claremont se Made in Cape Town Kersfeesmark sal besoekers plaaslik vervaardigde produkte kry, alles trots uit die Kaap. Van kuns- en tekstielitems tot dekor, juwele, seep en velprodukte. Alles is plaaslik vervaardig. Dan is daar ook ’n kosmark vir die soettand en kaasliefhebbers.

  • Waar: In die hart van Cavendish Square, op die eerste vloer
  • Wanneer: Tot 16 Desember elke dag 9:00 – 19:00 en Sondae 10:00 tot 17:00

Markdag in Houtbaai

Lekkertes in Houtbaai. Foto: Pixabay.

Aan die voet van die Hangberge kry jy Houtbaai se geliefde mark, die Bay Harbour Market. Dié mark bied jou alles van kunsvlyt en kos, dekor en kuns en hope musiekuitvoerings vir die feesseisoen.

  • Waar: Harbourweg 31, Houtbaai, Kaapstad
  • Wanneer: Vrydae 17:00 – 21:00 en Saterdae en Sondae 9:30 tot 16:00

 

Lees meer oor markte op ander plekke in die land:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.