Foto’s: ʼn Wildernis-eiland vol Franse flair

Cirque de Mafata (Foto: Carina Stander)

Hierdie is deel 4 van ʼn gesinsreis deur Mauritius en Réunion deur Carina Stander. Lees deel 1 en deel 2 en deel 3 – Red

Ek, Gerrit en ons twee seuns ry met die steil, smal pad van Cirque de Mafate tot hoog op na een van die asemrowendste dele van die eiland, Réunion. Weerskante van die slingerpad is die bome mosbegroeid en deur die mistigheid is die takke bo ons koppe in mekaar verstrengel. Dis seweuur die aand, stikdonker en yskoud toe ons stilhou. Nou is ons darem lus vir ʼn warm bed, maar o velskoen! Die stappershut wat ons bespreek het, is verkeerd gemerk deur AirB&B: dis nie 100 m van die parkeerplek af nie, maar twee ure te voet verder op ʼn afgrondpad vol skeure en donderende dieptes. Inderdaad nie ʼn salige gesinsavontuurtjie op ʼn maanlose, mistige, ysige nag nie… Druipstert ry ons terug na die beskawing en kry slaapplek by ʼn Kreoolse gesin met ʼn voorliefde vir oranje. Alles in hulle huis is oranje – die mure, gordyne, beddegoed. Dit ruik selfs na oranje kerrie. Volksvreemd, maar fluitskoon.

Die natuurwet van Réunion bepaal dat jy die berge vroegdag moet aandurf as jy nie net in miswolke wil vasstaar nie, daarom vat ons kort ná ontbyt weer die bergpad van die vorige aand. Die 35 km voel soveel korter in die daglig. Lewensles nr 789, seg ons vir mekaar: Die ou lewe is altyd meer spiekeries ná ʼn goeie nagrus.

Ons verkyk ons aan die sederwoud weerskante van die pad, die muur van varings en die stekelrige geel besembos. Teen seweuur die oggend is ons by die allerpragtige uitsigpunt, Piton Maïdo, 2 205 m in die lug. Die cirques van Réunion is soos drie skouspelagtige amfiteaters, aardtrogte gevul met valleie en woude.

Cirque de Mafata (Foto: Carina Stander)

Cirque de Mafate is ʼn sirkelvormige bergkom en ʼn geologiese wonder van steierende kranse. Fluitvormige kranse. Gekleurde klip. Ons tel vyf, ses piepklein dorpies doer in die verte. Dié dorpies is driehonderd jaar gelede deur avontuurlike bandiete en marrons (wegloperslawe) begin. Beskut deur die skrikwekkende berge, het hulle ʼn onherbergsame bestaan verkies bo ʼn lewe van slawerny. Wetend dat hulle dit nie weer in die beskawing kon waag nie – elk had ʼn losprys op die kop – het hulle hul eie stamleiers gekies en die Kreoolse kultuur hier begin. Tot vandag toe is daar geen karpad na die bewoonde dorpies toe nie, dit kan net met bergstapperpaadjies bereik word. Ons staar nog so na die gesprinkelde dorpies, toe dit voor ons aangesig verdwyn. Binne tellings is dit asof die mistigheid ʼn wit verfkwas oor alles vee en dit uitwis. Die Dorp wat nie Bestaan nie, noem ek dit. En ek weet voor my siel dat dié plek in my volgende boek gaan opduik.

In die dorpie St-Gilles-les-Hauts verken ons Museé de Villèle, ʼn woning wat in 1787 deur die magtige Madame Panon-Desbassayns gebou is. Sy is skatryk gemaak deur katoen, koffie en suikerriet. Meer as driehonderd slawe van Madagaskar, Zanzibar en Mosambiek was tot haar diens. In die slawehospitaal op haar landgoed, gebou van ruwe basalt, was daar weinig genade: die siekes en halfdooies moes steeds hout kap, klippe kraak, wol borsel en tou vleg. Die Madame was so stapelgek, sy het saans kiertsregop op haar bed gesit en slaap, omdat sy geglo het net dooies lê. Sy het graag seeskilpadsop, swaeltjieneste en buffelkerrie geëet. Dit alles leer ons tydens die begeleide toer in die spokerige ou huis met die muurpanele van koejawelhout.

LUX St Gilles (Foto: Carina Stander)

By LUX* Saint Gilles verwelkom Stéphane Baras ons met die gemaklike sjarme waarvoor die Franse bekend is. Die portaal waar ons haar ontmoet is ruim en vars en die geel meubels is stylvol. Die Kreoolse villa-styl huisies van LUX* is ingerig as gerieflike slaapkamers. Vanaf die balkon kyk ons hoe ons seuns met die groot buitelug-skaakstel speel. Wat dié verblyf werklik besonders maak, is dat dit reg by die grootste en veiligste strandmeer op Réunion is. Die eiland is berug vir die meeste haaiaanvalle in die Indiese Oseaan, haainette is opgerig en nou is die strandmeer een van die min plekke waar mens wettig mag swem.

Skaars het ons ingeboek, of ons gryp die snorkels en vaar die kristalhelder water in. Dis laaggety en die water kom skaars tot by my heupe. Ek en my tienjarige seunskind swem skouer aan skouer en wys die wonders vir mekaar uit: gespikkelde boksvissies. Papegaaivis. Vlindervis. ʼn Lange paling. ʼn Dikke vissie wat ons tjoepstil en met ʼn befoeterde gesiggie agternakyk. ʼn Byna deursigtige skool vis, elk so lank soos my voet. ʼn Seekat wat flink in ʼn tonnel van koraal verdwyn toe hy ons gewaar.

LUX St Gilles (Foto: Carina Stander)

Ons warrel gou deur die stort en skud ons vere reg vir die volgende verrassing van die dag: Elke Donderdag om skemertyd word die vakansiegangers by LUX* met ʼn partytjie verwelkom. Die eilandmense is mal oor hulle skemerkelkies en rhum arrangé (tuisgemaakte, speseryerige, vrugtige rum met eetbare blomme en vanielje) is die nasionale drankie. Terwyl ons ons verlustig aan samoesas, tropiese vrugte en garnale, speel ʼn Kreoolse séga-orkes.

Die musiek het toentertyd deur Afrikaslawe ontstaan. Nadat slawehandel afgeskaf is, was hier byna 100 000 gewese slawe op die eiland en vandag leef hul erfenis voort in die Kreoolse taal en sluimerende musiek. ʼn Skilder staan en verf ʼn groot skildery – aksiekuns.

Die partytjie is ook ʼn lekker manier om medereisigers te ontmoet en ek wip behoorlik van die skrik toe iemand met my Afrikaans praat. Dis ʼn gesin van Kaapstad met hul vyf kinders wat hier is om die ma se vyftigste verjaardag te vier. Hulle huistaal is Engels, maar hulle skinder lekker in Afrikaans wanneer hulle oorsee is. Ons skerts ʼn bietjie en gaan speel toe ʼn potjie skaak in die tuin. Onder die palmbome, met die seegesuis in ons ore, vertel ons vir mekaar dat Suid-Afrikaners ware selfdoeners is – hulle het ook, soos ons, ʼn kar gehuur en die histeriese paaie van die eiland self aangedurf. Publieke vervoer in Réunion is net té tydsaam, om getaxi te word is net té duur en daarom huur mens eerder ʼn motor en ry self, al is die bergpasse ʼn beeldskone nagmerrie!

Ek en Gerrit het sedert ons agtien jaar gelede saam begin reis het besluit om altyd die sewende dag te rus, anders kan mens die pas nie volhou nie. Daarom rits ons die volgende dag nêrens heen nie, ons drink net die omgewing rondom ons in. Die buffet-ontbyt is gemoedelik, vogeltjies vlieg in en uit die eetvertrek. Ons vervreet ons omtrent aan die pannekoek-met-nutella-sjokolade, beignets (poffertjies), pain au chocolat en okkerneutbrood en sluk liters veselryke lemoensap en bessie-smoothies af.

Teen negeuur is ons al klaar weer aan die snorkel in LUX* St Gilles se strandmeer. Die koraal het gloeiblou groeipunte. Die pypvissies is so lank soos my arm. ʼn Pylstert glip onder ʼn rots in. Ons sewejarige rakkertjie raak dapperder met die snorkel en geniet dit net soveel soos ons. Met ons vierde snorkel vir die dag is die stroom egter so woes dat dit my teen die koraal vasspoel. My been bloei en ek trap amper op ʼn paling, maar sien ʼn seeskilpad wat so groot soos ʼn rugsak is! Sy pote web stadig oop en toe terwyl hy aan die steenplante knaag. Daarna bou ons seuns torings van die stapels uitgespoelde koraal op die strand.

Aandete by Origens bestaan uit eilandgeïnspireerde disse soos salade de palmiste (slaai van palmhart), gerookte marlyn, eetbare blomme, geroosterde kreef en grenadella-sjokolade. Afgerond met un café (swart espresso) is dit suiwer Franse flair.

Die laaste dag rits ons noord, al langs die Nouvelle Route du Littoral. Dis die nuwe kuspad wat gebou word om verkeervloei tussen die stede aan te help. Gerrit verwonder hom aan die elegante ontwerp van ʼn 5 400 m lange brug! Dis die grootste siviele padbouprojek in Europa (jip, Europa, aangesien Réunion deel van Frankryk is) en behoort in 2020 voltooi te wees. Dis groot werkskepping aan die eiland met sy 28% werkloosheid.

St Dennis (Foto: Carina Stander)

Saint-Denis is die hoofstad van Réunion en meer eg Frans as enige ander deel van eiland. Ons wandel deur Rue de Paris – die straatnaam verklik klaar iets van die glorie van die suikerplantasiemeesters van die agtienhonderds. Neo-klassieke pilare. Heldergeel binnehowe. Gekrulde lamppale. Die mooiste is die Conseil Général de la Réunion, ʼn ligblou gebou met ʼn skaakbordvloer wat in 1804 gebou is.

Dis warm en die kinders is honger. Ons koop ʼn croissant by ʼn Fransman wat al in Suid-Afrika vakansie gehou het. Sy straatverkoper-stalletjie is silwerskoon. Hy reken ons tydsberekening is perfek – die Europese skoolvakansie begin middel Julie, dan is die eiland dolbesig.

By Jardin de l’État is daar ʼn oulike inisiatief van die plaaslike biblioteek van St Denis: jy kan ʼn Franse digbundel, kinderboek of klassieke roman uit die mooi stokkerige boekhuisies kies en dit onder ʼn boom in die parkie lees. Hier naby ontdek ons ʼn allerlieflike klein museum, Museé d’Histoire Naturelle. Dis reeds in 1880 geopen en 1 400 natuurobjekte word hier uitgestal, van stokgoggas tot dodoskelette, skulpe en halfedelgesteentes. Die botaniese tekening teen die blou mure is pragtig. Dis skoon, stylvol, slim en baie Frans. Geen inligting is in Engels beskikbaar nie, maar dit hinder ons glad nie.

Laatmiddag by die lughawe gee ons die huurkar sonder ʼn skrapie en met 500 km op die kerfstok terug. Dis die afstand wat ons ingeklok het op die malmooi kronkelpaadjies van ʼn eiland wat ons harte gesteel het.

REISRAAD

  • Tropiese siklone in Réunion is Januarie tot Maart. Mei tot Junie en September tot Oktober is die beste maande in dié stappersparadys. Begin vroeg: die dae raak hoe later, hoe kwater.
  • Suid-Afrikaners kan Réunion vir drie maande sonder ‘n visum besoek.
  • Wat om in te pak vir Réunion: Klere wat vinnig droog word (die eiland is immergroen met rede), ʼn sonhoed, stapskoene, swemklere, reënjas, warm klere vir die koue pieke, kopflits, basiese mediese sakkie, insekweerder en sonbrandroom. Verpak vliegkaartjies, paspoorte, internasionale rybewys en die kinders se geboortesertifikate waterdig. Jy kan snorkels hier huur, maar ek verkies my eie snorkel. Beskerm jou voete teen skerp koraalriwwe: koop voor die tyd waterskoene vir R200 by Mr Price Sports. ‘n Kamera is ‘n moet. Réunion is meer bergagtig en minder toeristerig as Mauritius – gevolglik werk GPS nie so lekker nie, maar dis steeds nuttig.
  • Die eilandbewoners van Réunion praat Frans en Kreools. Hulle Engels is skraps, behalwe in die hooftoerisme gebiede. Met ‘n paar Franse woorde, handgebare en ‘n wye glimlag kan jy egter vêr kom. Ons het soms Google Translate via die selfoon gebruik wanneer ons met mense gesels – heel prettig!
  • LUX* Saint Gilles se karaktervolle Kreoolse villa-styl huise is ‘n uitstekende keuse vir verblyf. Die slaapkamers is baie gerieflik. Hier is tennisbane, swembaddens, groot buitelug-skaakstelle, lekker eetplekke en die beste strandmeer op die eiland waar mens veilig kan snorkel. Skakel: 011 770 7821. Webwerf: https://www.luxresorts.com/en/hotel-reunion/luxsaintgilles
  • Orangine is ʼn kosbelewenis! Skakel: 011 770 7821.
  • Vonkpos: [email protected] Webwerf: luxresorts.com
  • Museé de Villèle is oop van 09:30 – 17:00, Dinsdag tot Sondag. ʼn Begeleide toer is €2 vir volwassenes, gratis vir kinders.
  • Museé d’Histoire Naturelle in St-Denis is oop van 09:30 – 17:30. Dinsdag tot Sondag. Ingang is €2 vir volwassenes, gratis vir kinders.
  • Direkte vlugte vanaf Suid-Afrika na Réunion kos byna ewe veel as om eers na Mauritius te vlieg en vandaar na Réunion. Vlugte in laagseisoen is aansienlik goedkoper. Skakel: 011 601 3900. Air Mauritius se webwerf: airmauritius.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae