SA se beste skeidsregter praat met Pierre Massyn

max-baise

Die skeidsregter Max Baise het met Pierre Massyn oor sy rugbydae gesels. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Hy was Suid-Afrika se eerste Joodse toetsskeidsregter. Sy regte naam was Motel, maar niemand noem hom Motel nie, sommer net Max. Perssku en beskeie soos hy is, gun hy my ’n eksklusiewe onderhoud. Hy aanvaar darem as ’n soort quid pro quo ’n getekende eksemplaar van Springbok Rugby-Vasvra. Ons praat openhartig oor die ou dae.

Max Baise se internasionale loopbaan as Suid-Afrika se beste skeidsregter het gestrek van 1963 tot 1976 – ’n allemintige 13 jaar.

“Kyk, in my dae het spelers soos Mannetjies Roux en Joggie Jansen-hulle teenstanders eenvoudig uitgehaal – maar binne die reëls”, vertel Baise my uit die staanspoor. Wie sal ooit Jansen se plettervat op Wayne Cottrell in die eerste toets teen Nieu-Seeland in 1970 vergeet? Baise weet waarvan hy praat, want hy het byvoorbeeld nie geskroom om die All Black Graham Thorne voor die eindfluitjie vir ’n vroeë stortbad te stuur nie.

Maar kom ons gaan diep nog ’n staaltjie uit die verlede: Ellispark, 27 Julie 1974. Die vierde toets. Suid-Afrika spook dit uit teen ’n formidabele Leeus-span wat reeds in 1971 die All Blacks op eie werf gaan afstof het. Willie-John McBride se Rooitruie het reeds die reeks gewen, maar die Suid-Afrikaners kan nog ’n oulap se rooi in hierdie laaste toetswedstryd red.

Die Leeus speel sonder hul Skotse bulslot, Gordon Brown, maar wen ’n bal uit die laaste lynstaan in die doodsnikke van die wedstryd. JPR Williams, sy bene besmeer van die olie, breek deur van die heelagterposisie. Dieselfde JPR wat die Vrystaatse eenoog-reus Johan de Bruyn in die bakleitoets in die Baai gejaag het dat dié Wallieser hol dat hy so klein word…

Maar dis nou op Ellispark, en dis ’n ander storie dié. Op die laaste oomblik gee Williams uit na daardie kookwater- Ierse flank, Fergus Slattery. Slattery is oor die doellyn. Gerhard Viviers saai uit. Dis spanningsvolle oomblikke.

“Dit kan nie ’n drie wees nie, mnr. Baise,” sê Gerhard byna pleitend aan ontelbare luisteraars, almal deur die bank deurwinterde Springbok-ondersteuners. Suid-Afrika hou asem op.

Max Baise is vandag 83 somers jonk, en hy erken ruiterlik hy het baie foute gemaak, maar doelbewus verneuk? Aikona. Nie hierdie ortodokse Jood wat Vrydagaande in die sinagoge deurgebring het vóór klipharde rugbywedstryde waarin daar geen duim genade gegee of gevra was nie. En die vierde toets was hard. JPR Williams beland een keer aan die verkeerde kant van ’n Springboklosskrum, en Moaner van Heerden trap die Leeu só dat hy nie weet of hy op Ellispark of Cardiff Arms Park is nie… en Moaner wás ’n derduiwel. Moaner wat die All Black-slot Peter “Pole” Whiting se oor amper afgehark het in die derde toets op Nuweland in 1976, maar dis ’n verhaal op sy eie. JPR Williams, wat ’n slag of wat vir Wallis op flank uitgedraf het, sal Moaner nie vergeet nie. Die Leeu-heelagter se bloedbesmeerde sweetband hang vandag nog in die Choet Visser-rugbymuseum in Bloemfontein.

Die horlosie draai weer terug. Ellispark. Slattery word deur Springboksenter Peter Cronje gestuit… dieselfde Cronje wat Suid-Afrika laat juig het met die eerste 4 punte-drie in ons rugbygeskiedenis, in dieselfde wedstryd.

Max Baise blaas sy fluitjie. Die telling bly vassteek op 13-elk. Slattery het die bal op Cronje se been gedruk. Dus geen drie nie. ’n Foto bewys later die 31ste man op die veld was toe reg. Maar die Leeus is briesend. “You’re a f***ing cheat”, snou die dartelende losskakel Phil Bennet die Vrystaatse arbiter toe wanneer die 30 uitgeputte spelers van die veld strompel. (Die Britte het die f-woord word mildelik gebruik.)

Maar wie is hierdie Boerejood van die Vrystaatse Goudvelde? Sy voorsate was Litauers wat tydens die pogroms (georganiseerde moorde van veral Jode) na Suid-Afrika uitgewyk het, vertel die man in die middel in suiwer Afrikaans. Max se pa, Barney, ’n handelaar van beroep, emigreer in 1920 na Suid-Afrika. Max aanskou die eerste lewenslig op 24 Junie 1932 in Hoopstad. Die Baise-gesin beland in ’n dorpie genaamd Theron, agt kilometer van Theunissen.

“Dit was die dae van die Joodse smouse, toe my pa se mense nog van plaas tot plaas getrek het met hul waentjies waarop enigiets van boerseep vir tant Sannie tot ’n draadtang vir oom Daantjie te koop was”, onthou Max. Hy gaan die eerste keer skool in Hoopstad. Sommer vroeg-vroeg word die jong Baise aan rugby blootgestel. Hy leer aan die bekende “Blouskool” op Kroonstad en die rugbygogga byt behoorlik.

Hy word kaptein van sy skool wat die Hepworth- en Van Heerden-bekers wen. Dat hy kon speel was duidelik, want hy het in dié dae Vrystaat Skole gespeel. Hy skakel heeltemal by die Afrikaanse gemeenskap in en word selfs ’n lid van die CSV. Kort voor lank raak hy verlief op ’n Boerenooi, die mooie Dorothy Roos. Hulle vry weliswaar ’n rukkie voor hulle in 1954 afhaak, met Dorothy skaars 16 en Max beswaarlik 21.

En hoe word hy toe ’n skeidsregter?

“Man, ek en my neef Solly was albei beseer, ek met ’n verswikte enkel.” Toe loop die neefs eendag in die Outspan Inn op Odendaalsrus in vir ’n bier. “Hoekom is hier so baie karre?” vra Max die kroegman. “Dis vir ’n skeidsregtersvergadering,” kom die antwoord. Die Blaise-nefies skryf hulle daar en dan in as aspirant-skeidsregter.

“En so betaal ek 5 sjielings vir ’n skeidsregterkursus. Dis die beste belegging vir 5 sjielings wat ek nog gemaak het”, onthou Max vandag sonder om groot te praat. Op 25 Augustus 1956 ontvang hy sy sertifikaat van die Eksamenraad van die destydse Rugby-skeidsregtersvereniging van die OVS en Basoetoland en hy mag amptelik wedstryde hanteer. Die res is geskiedenis. Motel en Solly word albei internasionale skeidsregters. Die volgende Suid-Afrikaanse Jood wat internasionaal as toetsblaser sou ageer, is Jonathan Kaplan. Max blaas sy eerste internasionale wedstryd op Nuweland, tussen die Wallabies van 1963 en die Westelike Provinsie.

In 1967 kies die Skotse Grensspan hom vir hul wedstryd teen Vrystaat. Dit was ’n skitterende wedstryd en Max onthou dat een van Dok Danie Craven se waarhede was dat jy nooit ’n goeie wedstryd sal sien met ’n swak skeidsregter nie. Hierdie Vrystater in murg en been word een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde skeidsregters en tree uiteindelik in sewe toetse van 1967 tot 1974 op. In daardie dae was jy gelukkig as jou land vier toetse per jaar gekry het. Die Leeus van 1968 was so beïndruk met hom, dat hy seker ál vier toetse sou geblaas het as dit van hulle afgehang het. Hy blaas wel in die eerste toets op 8 Junie 1968 en die derde op 13 Julie 1968 – dieselfde dag wat sy seun Ronald sy bar mitzvah vier – die dag wanneer ’n Joodse seun ’n man word. As afrigter laat hy hom ook geld en Welkom Rovers praat vandag nog met lof van hom. In 1963 lees sy rekord by hierdie gedugte Noord-Vrystaatse span onder die kapteinskap van Springbok Chris de Wilzem soos volg: 22 wedstryde gespeel, 20 gewen en twee gelykop.

Max Baise was betrokke by verskeie historiese oomblikke in Suid-Afrikaanse en wêreldrugby. Hy onthou ’n paar. In die eerste toets in 1968 – toe Frik du Preez die Leeus-kaptein Tom Kiernan soos ’n vrot vel laat spat het op pad na sy droomdrie – smeer die biltongtaaie Jan Ellis die begaafde Walliese losskakel Barry John so hard op Loftus Versfeld aarde toe, dat sy sleutelbeen morsaf breek. John word vervang deur die Ierse legende, Mike Gibson. Dit was die eerste amptelike plaasvervanging in internasionale rugby. In 1972 blaas Max Baise die geskiedkundige wedstryd tussen Engeland en die eerste swart Suid-Afrikaanse span – die Luiperds. Hy tree ook op in Suid-Afrika se eerste provinsiale wedstryd onder spreiligte – tussen Vrystaat en SWD op 21 September 1966 in die Vrystaatstadion

Geen ander skeidsregter het meer toetse tussen die Bokke en die Leeus hanteer nie. Sy rekord van vier Leeustoetse staan nog steeds. Max bou ’n reputasie van objektiwiteit en regverdigheid op wat hom vandag nog erkenning laat geniet. Sy slagspreuk: “Bemeester die reëls, sorg dat jy fiks is om by te bly, laat die spel vloei en blaas net wat jy sien. En moenie vergeet om die voordeelreël toe te pas nie.”

En Max Baise het altyd geblaas wat hy sien. Suid-Afrikaners blameer hom egter vandag nog vir die feit dat die Springbokke nie daardie vierde toets gewen het nie. Hoekom dan? Daar was nóg ’n omstrede insident in daardie dramatiese toets: bobaas Leeu-oondskoonmaker Gareth Edwards kry net-net hand by toe Bok-skrumskakel Paul Bayvel ’n bal uitslinger na sy agterlyn. Die bal beland in die doelgebied. Al wat Max sien, is die duikende Leeu-flank Roger Uttley. Daar is spelers tussen die skeidsregter en die bal. Leeu-spelers appelleer vir ’n drie. En hul pleidooie werp vrugte af. Hulle kon lekker praat, daardie Leeus. Slattery was nie verniet ’n afslaer nie. Dit was die einste Slattery wat flank Herold Verster vlak voor my vasgehou het om Mervyn Davies toe te laat om van ’n skrum ’n drie teen Vrystaat te druk. Vrystaat het daardie wedstryd terloops orals gewen behalwe op die telbord en die Leeus het self erken dat hulle bitter gelukkig was. Ene Leon Schuster sit op die bank vir die Wittruie en bid dat André Bestbier tog “net so ’n klein bietjie” moet seerkry sodat hy teen die Leeus kan speel. Vroeër daardie jaar – 1974 – haak Schuster vier vaskoppe teen Piston van Wyk, gesoute Springbokhaker in Vrystaat se wedstryd teen die Junior Springbokke. Max ken Uttley se “drie” toe. Die Bokke is kwaad. En met reg ook. ’n Latere foto bewys dat regtervleuel Chris Pope duidelik die bal dooddruk voordat Uttley daarop duik.

Die All Blacks van 1970 is tot vandag toe ook briesend vir Baise. Daar was seker beswaarlik ’n harder en genadeloser toets gespeel as die tweede een op Nuweland daardie jaar. Groen en Swart klim met soveel geweld onder mekaar in dat Springbokkaptein Dawie de Villiers by homself dink: Vandag sterf hier iemand.

Die kranige All Blacks-vleuel Bryan Williams kry die bal, lê rieme neer en duik by die hoekvlag oor – in die Otto van Niekerk-hoekie. Albie Bates – agsteman en latere Noord-Transvaalse kaptein – probeer die vlieënde Samoaan oor die kantlyn help. Skeidsregter dr. Wynand Malan staan reg om die drie toe te ken, maar wag… die vlag skiet omhoog. En wie hou die vlag vas? Max Baise! Jammer All Blacks, geen drie nie… Jy kan net nie wen nie, nè?

’n Eerliker man as Motel “Max” Baise skop jy nie agter elke bos uit nie. Hy erken vandag dat Uttley se “drie” glad nie ’n drie was nie, maar dit was in die dae voor TV-skeidsregters en vandag se moderne tegnologie.

Die rugbyspeler Toks van der Linde saam met Pierre Massyn. Massyn is ook die skrywer van die boek Springbok-rugbyvasvra. Foto: Verskaf.

“Al wat ek gesien het, was Uttley wat duik en sy hand op die bal kry”, kom dit van Baise waar hy vandag in die Fynbos-park 21 op Riversdal digby Osler-straat met my ’n tydjie afknyp. Terloops, onthou julle Bennie Osler, die Bok-kaptein en moontlik ons beste losskakel? Max vertel voort en hy erken ook dat Slattery moontlik die bal langs Cronje se bene kon gedruk het nadat hy sy fluitjie geblaas het, maar beslis nie voor die tyd nie.  Volgens Baise moes die Bokke daardie toets gewen het.

“As Jackie Snyman (Vrystaatse losskakel) Peter Cronje se drie vervyf het, was die Leeu se stert geknoop.” Boonop het Gert Muller die bal met ’n oop doellyn voor hom aangeslaan na ’n skitterende breekslag deur die einste Snyman, broer van mede-Springbok Dawie, albei produkte van Grey Kollege in Bloemfontein.

In 1976 besluit die flambojante Baise om sy stewels op te hang. Ek was bevoorreg genoeg om hom in sy laaste wedstryd in aksie te sien – dié van Wouter Hugo se Vrystaters teen Andy Leslie se Nieu-Seelandse toerspan. Die Swarttruie is altyd moeilik, maar hulle loop hulle daardie dag vas teen ’n omgekrapte Vrystaatspan wat in 1976 die eerste keer in die geskiedenis die Curriebeker sou wen. Die Witspan stuur die All Blacks met 15-10 met die kous oor die kop huis toe – net soos in 1960, toe hulle die All Blacks met sterre soos Colin Meads, Wilson Whineray, Peter Jones, Kevin Tremain en Don Clarke in hul geledere, streepsuiker gegee het. Ene Louis Luyt sak op slot vir Vrystaat. In die 1976-stryd suiker Gerrie Germishuys in die hoek oor vir sy drie – die tweede van drie drieë wat hy in sy loopbaan teen die Nieu-Seelanders sou druk. Bloot te oordeel na wat ek daardie dag in Bloemfontein gesien het, was Max Baise ’n uitstekende skeidsregter.

Daardie wedstryd op die Vrystaatstadion in 1976 was een van die vele hoogtepunte in ons Boerejood se loopbaan, maar vir groter drama – en omstredenheid – as Ellispark 1974 kon jy nie vra nie.

  • Pierre Massyn is ’n oudjoernalis wat die eerste TV onderhoud met oudstaatspresident FW de Klerk gevoer het. Hy het ook die mikrofoon vir SAUK televisienuus hanteer toe wyle Chick Henderson as bestuurder die eerste volwaardige verteenwoordigende Suid-Afrikaanse toerspan, die Barbarians, in 1979 na die Verenigde Koninkryk geneem het. Latere Springbokke soos Divan Serfontein, Rob Louw, Div Visser, Martiens le Roux en Errol Tobias was almal lede van daardie geskiedenismakende groep. Pierre Massyn is die skrywer van Springbok Rugby-Vasvra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

TongInDieKies ·

In die vroeë 80’s kom daar n klein toestelletjie met die naam “veld ore”. Jy sit op die pawiljoen en luister direk na die skeidsegter. Vir daardie jare was dit ongelooflike tegnologie. Noord Transvaal speel teen OP op Loftus. Garth Wright is OP se nr 9 en die skeidsregter is Fransie Muller, ook woonagtig in PE. Daar word ‘n skrum gevorm en Garth vra vir Fransie: “wie se ingooi is dit?” Fransie antwoord: “ons s’n”. Die enkelinge in die skare wat “veld ore” teken dadelik beswaar aan. Dit was baie snaaks. Mens kon ook eendag die gekskeerdery op die veld tussen Adolf Malan en Jan Lock hoor. Weereens bars almal wat “veld ore” het uit van die lag. Die goeie ou dae toe die Bulle nog kon geskrum het en nie soos verlede naweek verneder us nie….

Frans C ·

Was daar in 1974 en het heelbo op ‘n tydelike pawiljoen gesit ,met die bome wat klein van bo af gelyk het.Dit was moeilik om te sien of Slattery wat deur,soos ek dit onthou,deur die lynstaan gebars het,wel sy drie gedruk het.
Sy verbaasde gesig toe die drie nie toegestaan is,sal my by bly.

Frans C ·

Dit is duidelik dat ‘n mens se gehue jou soms ook in die steek laat.Op Youtuble onder Thinking rugby.com is daar ‘n opsomming van die Britse toerspan in 1974,met die hoogte en laagtepunte en ook die nie toegestane drie van die Flank Slattery.

Dit is duidelik dat dit ‘n skitterende poging van die heelagter was,wat tot die drie deur Slattery gelei het ,wat nie toegestaan is nie ,en nie uit ‘n lynstaan wat dalk vroeër gebeurtenis in die wedstryd kon gewees het.

William B. ·

Cravenweek? Ek twyfel.

Die eerste Cravenweek is in 1964 gespeel. Max Baise is in 1932 gebore, so hy het Vrystaat op 32-jarige ouderdom verteenwoordig op skolevlak?

Puik skeidsregter gewees!

Mariné Lourens ·

Dagsê William B.

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Willem Frost ·

Max kon nie Cravenweek gespeel het nie. Die erste Cravenweek was in 1964 en toe was hy al lankal uit die skool.
As sy ouers in 1920 hierheen geeimigreer het, was dit voordat die Nazis aan bewind gekom het. So, ek twyfel of hulle Joodse vlugtelinge was.
Hulle was seker nie Lutherane nie, maar van Lithuanië. Ek dink nie daar was baie Jode wat aan die Lutherse kerk behoort het nie.
Maar dis n baie interessante artikel. Dankie.

Mariné Lourens ·

Dagsê Willem Frost

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

marco polo ·

Jy bedoel seker hy was van Litaue, Lithuania is die Engelse weergawe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.