Só gesels Afrika se suidelikste brandweerhoof

pierre-massyn-en-reinhardt-geldenhuys

Reinhardt Geldenhuys (regs) brandweerhoof op Bredasdorp asook bevelvoerder van Afrika se suidelikste reddingstasie, stasie 30 op Struisbaai, gereed om ‘n seiljag wat in die moeilikheid is, te hulp te snel. Foto: Verskaf.

Hy’s nie net die brandweerhoof van die Overberg nie, hy’s ook die bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se suidelikste stasie in Afrika, die een op Struisbaai. Te midde van sy besige program het Reinhardt Geldenhuys tyd ingeruim om met Maroela Media te praat in die NSRI se Stasie 30 op Struisbaai. Geldenhuys is dikwels in die nuus wanneer hy brandsbestrydingspogings koördineer. Die jongste brandpunt was op Vermaaklikheid naby Stilbaai waar nege strukture, waarvan vyf op Oshoek wat aan Peter Borain (1) behoort, deur ’n vernietigende brand in puin gelê is. Pierre Massyn het dié onderhoud met hom gevoer.

 Jy is ons streek en die Suidpunt van Afrika se nommer een-vuurvegter. Hoe lank is jy nou al gemoeid met brandbestryding?

Sowat 30 jaar. Ek is die afgelope ses jaar brandweerhoof.

Oor watter eienskappe moet ’n persoon in jou posisie beskik?

In die eerste plek moet jy oor deursettingsvermoë beskik. Tweedens moet jy geduld hê. Dan moet jy ook aanvaar dat wat jy doen, ’n lewenswyse is. Ek het ’n passie vir wat ek doen. Ek is in die gelukkige posisie dat ek ’n gesin het wat agter my staan en my ondersteun. My vrou, René, en my kinders ondersteun my deur dik en dun. My een dogter, Larissa, is self ’n lid van die NSRI hier op Stasie 30.

Waar het dit alles begin?

Ek was op skool ’n lid van die Boys Scouts op Hermanus. Daar was ek aan noodweer blootgestel. Ek het later as paramedikus en ook in rampbeheer onder die Caledon-bestuur gewerk en na my tyd in die weermag, het ek my by rampbestuur in die Overberg aangesluit waar ek myself stelselmatig opgewerk het.  Ek is nou 51 en ken geen ander beroep as rampbestuur nie.

Hoe werk die verhouding tussen die NSRI en Overberg-rampbestuur?

Die verhouding werk uitstekend. Die een is aanvullend tot die ander een. Ons ondersteun die NSRI en die NSRI ondersteun ons. Ons help mekaar onderling met mannekrag. Die een hand was die ander.

Maar jy is ook deel van ’n handjievol Suid-Afrikaners wat oorsee gaan en bystand verleen in krisistye?

Ja, ek beskik oor sekere kundighede wat gebruik word ten tyde van rampe. Ons was 25 Suid-Afrikaners wat Japan toe was ná die laaste aardskudding en tsunami. Ek was lid van die bestuurspan. Ek is onder Colin Deiner, hoof van rampbestuur in die Wes-Kaap en hy val weer onder die Nasionale Rampbestuur. Wanneer ons ontplooi word, vorm ons ’n insidentbeheer-groep wat die ramp bestuur. Ons werk saam met ander noodspanne van oor die hele wêreld. Dis ’n eer en ’n voorreg om mense in nood te kan help.

Reinhard word weggeroep na die NSRI se beheerkamer. Daar is ’n seiljag in die moeilikheid sowat 10 seemyl suidoos van Kaap Agulhas. Die Day Off – ’n 13 m-boot van Mosselbaai onderweg na Kaapstad – lek water en het sy anker verloor. ’n NSRI-span sal die Day Off tegemoet vaar, seker maak dat hulle veilig is en ’n anker aan die opvarendes leen. Waldo Strydom (Stuurman) peil die posisie van die Day Off haarfyn op die seekaart.

 Reinhard is terug en die onderhoud gaan voort.

Hoe lank is jou nou al stasiebevelvoerder hier op Struisbaai:

So ses of sewe jaar. Ek het oorgeneem by Shane Kempen, onder wie jy self op die NSRI gedien het. Dit was in sy tyd dat hierdie gebou, wat nou ons basis is, opgerig is. Ons het later die bootskuur bygevoeg. Voor Shane was Des Hageman die stasiebevelvoerder. Ons is nou 20 lede hier by Stasie 30. Nuwe lede om as vrywilligers te werk, is hartlik welkom.

Hoeveel personeel is tot jou beskikking by die brandweersentrum op Bredasdorp?

Ons is 56 weerbare manne.

Hoe lyk jou begroting?

R22 miljoen. Ons is in die gelukkige posisie dat ons wonderlike ondersteuning van die distriksmunisipaliteit en die raad ontvang.

Watter boodskap sal jy in hierdie besige tyd aan die publiek uitstuur?

Ons is verantwoordelik vir die gemeenskap. Die veld is droog. Ek vra dat mense uiters versigtig moet wees on nie brande te veroorsaak nie. Rapporteer alle vure onmiddellik aan 028 426 1690. Moenie aanneem die vuur is reeds gerapporteer nie. Om ’n Chinese lantern aan die brand te steek, kan en sal jou onmiddellik ’n boete van R2 500 op die hals haal.

Wat is die grootste enkele oorsaak van brande wat ontstaan?

Sonder twyfel kwajongens wat kwaadwillig die veld aan die brand steek. Vuurwerke en onbeheerde braaivleisvure is ander oorsake.

En sigaretstompies?

Dis hoogs onverantwoordelik om byvoorbeeld brandende sigaretstompies uit voertuie te skiet. Sulke oortreders kan hulself maar vetsmeer vir ’n boete van R2 500.

Reinhardt spring in sy rubberpak en hy en George de Kock en Reinhardt se dogter Larissa gaan die Day Off te hulp snel in die NSRI se rubberboot. Die onderhoud moet kortgeknip word. Maroela Media en Suid-Afrika salueer hierdie onbesonge held vir sy toegewydheid en onbaatsugtige diens.

Voetnoot:

  1. Peter Borain is die vader van die bekende model José Borain wie se gesig op die voorblad van talle mode- en ander tydskrifte gepryk het.

Pierre Massyn het in 2006 die NSRI se vlag van Stasie 30 op die Uhuru-Piek, Kilimandjaro geplant om fondse in te samel. Hierdeur is die Suidelikste punt in Afrika simbolies met die hoogste piek verenig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

linda limbo ·

Reinhardt baie dankie jy’s ‘n yster, hoop jy leer ‘n paar jong manne daai passie wat jy het
Hero!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.