Gedagte vir die dag:  Aangename kennis!

Herder_skape_veld_stiltetyd.jpg

Foto: Carbonchurch.com

Lees Nehemia 2:1-10

My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan. (Nehemia 2:8)

Nehemia, die Persiese koning se kroegman, se hart brand om na sy eie land terug te gaan. Hy het gehoor dat sy mense daar in die verre Juda bitter swaar kry, dat die geliefde Jerusalem se mure omgegooi lê en die stadspoorte verbrand is (vgl. Neh 1:3). Met ’n swaar hart doen hy sy werk vir die koning.

Die koning, klaarblyklik ’n oplettende en sensitiewe mens, vra hierdie amptenaar uit oor sy terneergedruktheid. En Nehemia roer die saak versigtig aan. “Ek was baie bang …” (v. 2) vertel hy oor sy poging om die koning in te lig. “Ek het ’n skietgebed opgestuur na die God van die hemel …” (v. 4).

Toe het hy alles aan die belangrike vors vertel.

Bybellesers ken die verhaal verder. Oor hoe die koning sy hand vir sy werknemer wyd oopgemaak het. Dit word ’n opbouende storie soos min! Boonop is die hoofkarakter self aan die woord, en die leser kry dus in die Nehemiaverhaal se dertien hoofstukke ’n intieme kykie in dié man se hart.

Verskillende waarnemers sien verskillende dinge wanneer iemand sy hart so ontbloot soos hier. Ek, byvoorbeeld, leer ken ’n mens wat nie skroom om te sê hoe afhanklik hy van God is nie. “My God” noem hy Hom, die Een wat “sy goeie hand” oor hom hou (v. 8).

Nehemia praat ’n taal wat ek goed verstaan. Ek ontmoet hom hier as een van my mense. Nee, ek weet nie veel van hom nie en van sy tyd en omstandighede nóg minder, maar oor die feit dat ons familie van mekaar is, het ek weinig twyfel.

Hallo, broer!

Here, in u groot gesin is daar vir my ook plek. Ek sit dankbaar by die gesinstafel aan.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Baie dankie Here vir al U genade en seëninge. Amen!

Darryl ·

Amen Barend..Hallo broer..nou ken ons mekaar ook..ons het dieselfde Abba..Prys Sy Heilige Naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.