Gedagte vir die dag: Agter Hom aan

man_stap_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Romeine 13:13-14

Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus … (Romeine 13:14)

Jesusvolgelinge. Dit is wat gelowiges is. Ons is trappers op sy spoor. Wandelaars in sy Woord. Dit beteken uiteraard dat ons weet dat Hy die kompas vashou en die meetsnoere hanteer. Dat Hy die koers bepaal en die rusplekke aandui. Kortom: Hierdie reis is in sy hande en geskied op sy voorwaardes.

Jesusvolgelinge weet ook dat dit nie ’n plesierrit is wat luidkeels lofprysend en al huppelend deur goue strate en pêrelpoorte verloop nie. Dit is, inteendeel, ’n volbloedreis “deur donker dieptes” (Ps 23:4) en “op hoë plekke” (Hab 3:19). Hulle weet ook dat hulle juis daar nie hoef bang te wees nie.

Maar die stilhouplekke is genadig nie oases met Oros en Hallelujaliedjies nie; Jesus is mos hoeka vir “’n vraat en ’n wynsuiper” (Matt 11:19) uitgeskel. Hy wat ’n bruidegom se eer deur wyn gered het (vgl. Joh 2:1-11). Nee, dit is ’n intense reis dié, maar vol vrolikheid en op ’n roete bevolk deur dankbare mense. Hulle weet wat die eindbestemming is. En al ken of begryp hulle nie al die besonderhede daarvan nie en al maak die pad daarheen hulle soms baie bang, weet hulle wie daar op hulle wag.

Daarom het Paulus se oproep soveel sin, die vermaning aan die reisigers om hulle tydens hierdie reis soos Jesusvolgelinge te gedra. Om nougeset op sy spoor te bly. Om naby genoeg aan Hom te wees sodat hulle sy hande kan sien wanneer Hy beduie – hierlangs! Of: Versigtig! Of: Kom ons rus eers ’n bietjie …

Ja, hulle moet teenaan Hom bly. Byderhand wanneer Hy die padkos begin uitdeel, die ete en drinke, die lewenswater en die genadebrood.

Jesus, U gaan voor – ons volg in u spoor. Laat ons selfs in donker dae altyd volhou sonder kla. U is in beheer …

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Inderdaad is die reis deur die lewe n moeilike een….dankie Here dat ons dit nooit sonder U hoef aan te pak nie…versterk ons geloof deur die inwonende krag van die Heilige Gees

Derek ·

Dankie Vader vir die strome van lewende water vanuit U genade troon deur Hom wie ons Geneesheer is. Al gaan ons ook deur n dal van doodskaduwee hoef ons niks te vrees nie, dankie vir die ewige lewe deur die opstanding!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.