Gedagte vir die dag: Alles is nie summier duiwels nie

man_uitgestrekte_arms.jpg

praisethelord.com

Toe sê Jesus vir hom: “Trap, Satan! Daar staan in die Skrif: ‘Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen dien.’” (Matteus 4:10)

’n Ruk gelede lees ek ’n brief in ’n dagblad van iemand wat met groot stelligheid sê alle vorme van depressie is demoniese besettings. Sielkundiges en psigiaters se behandeling en medikasie sal nie hiervoor werk nie. Toe gaan staan my hart amper. Bo en behalwe dat sulke uitsprake onverantwoordelik en onbybels is, wonder ek toe of hierdie briefskrywer al ooit met ernstige depressielyers te make gehad het, en of hy enige insig het in die feit dat daar chemiese wanbalanse in die brein kan intree wat hiertoe aanleiding gee, en wat deur medikasie behandel moet word. Om dit wat ons nie verstaan nie goedsmoeds aan die duiwel se werk toe te skryf, is gevaarlik. Die Bybel sê wel hy is ’n brullende leeu, maar die duiwel is nie God se gelyke nie.

Maar wat van rekenaarspeletjies en sulke dinge? Iemand vra juis of speletjies soos Pokémon Go demonies is. Toe sê ek dis net ’n speletjie. “Maar speletjies kan gevaarlik wees,” sê sy. “Soos rugby,” waag ek dit. “Maar sê nou dis van die duiwel af?” “Wel, ons skrik mos nie vir die duiwel nie,” sê ek. Ons moet lig loop om nuwe dinge wat ons nie mooi verstaan nie op die op posisie se rekening te plaas of om ons eie vrese en onsekerhede te projekteer op ons kinders en op ander. Ons glo immers dat die Here wat in ons is groter is as die res. Daarom is ons vertrekpunt nooit vrees en agterdog nie. Ons eerste vraag is nie of iets verkeerd is, of iets is waarvoor ons moet skrik nie, maar hoe ons alles in ons lewe tot eer van God kan benut. Ons wil magnetiese navolgers van Jesus wees, nie ongure gelowiges wat ander afstoot nie.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Agie ·

Amen

Dankie vir die positiewe benadering. Die belangrikste is dat dit ‘n wils besluit is wat mens in beheer plaas, deur die krag van die Heilige Gees.

linda limbo ·

Baie dankie,
diwels is ons so vinnig om die ding met die lang stert eer te gee

Anni ·

Ek MOET net hierdie met julle deel. So besluit ons mos onlangs om na die Garden of Lights te gaan kyk by Emperor’s Palace.

Goeie genade. ‘n Familielid kry toe byna ‘n oorval, want dit is onbybels en ‘n heidense gebruik, en ons hardloop agter die wereld aan. Soos die familielid se tirade aangaan, kan ek toe agterkom, maar hy is besig om sy mond uit te was oor iets wat hy geen benul van het nie. Ek verduidelik hom toe maar dit is Garden of Lights, dis Kersfeesliggies. Dit het absoluut niks te doen met Diwali of ‘n gepoeiergooiery soos hy dink nie. Was ek nou ongewild gewees!

Mense is te geneig om gevolgtrekkings te maak en alles as onbybels, heidens en duiwels te etiketeer, nog voor hulle hulleself van die ware feite en omstandighede vergewis het, maar het hulle monde uit te was in hulle onkundigheid.

ANA ·

swak artikel,deurspek van pure onkunde en defnitief nié iemand,wat al met die REALITEIT van okkulte/satanisme gedeel het nie…wakker word broeder Joubert

Veritas ·

ANA, by die lees van hierdie artikel het ek vir ‘n oomblik gedink dat ek dalk die kluts kwyt geraak het. Die listigheid van Satan laat sommige mense glo dat hy nie magtig en slinks is nie. Sonder die Heilige Gees se werking in ons, is dit moeilik om die werkinge van Satan te identifiseer. Die ou slang was toegelaat om Job te toets en het bose swere op hom te voorskyn laat kom. Wie sê sekeres van ons gelowiges word nie deur Satan aangeval deur siektes nie.
Moet nie Satan in alles sien nie maar wees bewus daarvan dat die moontlikheid wel bestaan dat hy, indien God dit toelaat, verantwoordelik kan wees vir sommige siektes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.