Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: “Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!” (Lukas 15:18)
Dis belangrik om te onthou dat God die mens as Syne beskou. Hy het die mens gemaak soos Hy wou, en met sý doel in gedagte. Die mens is dus God se eiendom – trouens, die mens is God se kosbaarste besitting! Daardie eienaarskap kan nooit opgehef word nie: Die mens het ’n permanente, onlosmaaklike band met God. Selfs waar die mens van God afdwaal, bly hy God se afgedwaalde mens.
In ’n algemene sin is God elke mens se Vader, en is elke mens bloot ’n kind wat óf nog ronddwaal óf reeds tuisgekom het. Soos God in die mens belangstel en na hom uitreik, so het elke mens weer ’n inherente hunkering na God – ’n behoefte aan terugkeer na die Skepper, die Vader, die Oorsprong. Augustinus se klassieke gebed vang dit vas: “Ewige God … U het ons vir Uself gemaak; daarom bly ons harte rusteloos totdat dit hul rus in U gevind het.” Die vraag is altyd: Is jy nog rusteloos of het jou hart reeds rus gevind?
Dankie, Abba Vader, dat ek in u hart kon tuiskom, dat daar vir my by U oop arms en ’n warm welkom is. By U wil ek bly! Amen.
Die artikel is totaal misleidend. Alle mense is nie kinders van God nie, maar slegs die wat tot geloof in Jesus Christus gekom het en Hom aangeneem het as Verlosser. Die 2 groepe mense is dus die gereddes wat aan Hom behoort en ewig sal lewe, en die ongelowiges wat ewig in die hel sal wees.