Gedagte vir die dag: Beloftes maak skuld

landskap_mistig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 61

Dan sal ek u Naam altyd besing en dag na dag my geloftes betaal. (Psalm 61:9)

Dié psalm klink soos soveel ander: Die digter roep wanhopig om hulp; hy weet sy Here is sy enigste toevlug. Hy beskryf die Goddelike beskerming in mooi beeldspraak – “onder u vleuels” (v. 5) – en hy verseker almal dat God sy kinders se geroep hoor.

Teen die einde voeg hy by dat hy altyd die Here se Naam sal besing. En dat hy sy geloftes gereeld sal betaal.

Nee, hier is niks vreemds nie. Dit gee ons, soos al die ander Bybelse psalms, iets om oor saam te sing. ’n Gebed om te beaam. Dit hou ook ’n spieël voor ons op. En soos dit telkens gebeur, is dit wat na ons toe terugkyk nie noodwendig ’n mooi prentjie nie. Die digter se vaste oortuiging dat God hom hoor, byvoorbeeld, rym nie te gemaklik met ons gereelde gekla dat ons “teen die plafon vasbid” en in ’n leegte in roep nie. Ons deins terug van sy wens om

onder God se vlerk in te kruip. Ons wil sélf vlieg, en hoog ook.

Ai, en die ding van geloftes wat betaal moet word … Die uitleef van daardie ou sêding: Beloftes maak skuld!

Sien, ons het kenners van God se beloftes geword. Ons spoor dit maklik in die Bybel op, ons onderstreep dit en herinner ons gereeld daaraan. En ons huiwer nie om God te help onthou nie. Ons sê: Here, U belowe mos in u Woord …

Wanneer die uitkoms kom en die Here van ons lewe tot ons redding verskyn, is ons baie dankbaar. En ons vergeet terstond wat ons Hóm alles belowe het. Dit is die ongemaklikheid waaraan Psalm 61 ons ook herinner.

U het my geroep gehoor. Dankie! Wys my nou hoe ek U elke dag kan loof.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae