Bid saam vir Christene in Afrika

Foto ter illustrasie. (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Ayuba* se pa is deur Islamitiese militante vermoor in ʼn wrede aanval op sy dorpie. Nie net moes hy sy pa se onthoofde lyk help uitken nie, maar hy het ook gehoor sy naam is op die terroriste se lys om vermoor te word. Hy is geteiken omdat hy ʼn Christen is, dieselfde rede waarom sy pa vermoor is.

Volgens Elizabeth Botha, mediabeampte van Geopende Deure Suid-Afrika, is dit die tragiese verhaal van vele Christene in Afrika suid van die Sahara, wat weens hulle geloof gewelddadige vervolging ervaar.

“Geopende Deure kon Ayuba bystaan en hom en sy familie help om verder suid onder Boko Haram se greep te vlug. Hy het ook traumasorg ontvang wat die jongman gehelp het om emosioneel te genees. Te midde van dit alles kon hy vergifnis vir sy pa se moordenaars vind, en sy geloof versterk.”

Daar is meer Christene in Afrika as in enige ander plek in die wêreld, en tog, volgens Geopende Deure se jongste navorsing , is 95% van die Christene wat in 2022 weens hul geloof vermoor is, vanuit Afrika suid van die Sahara, veral in Nigerië. Die organisasie reken ook dit is ʼn konserwatiewe skatting en die werklike situasie mag dalk selfs erger wees.

Die geweld teen Christene in die vasteland is ook besig om toe te neem.

Die gebed van ʼn gelowige het ʼn kragtige uitwerking – Jakobus 5:16 (AFR83)

Botha sê Geopende Deure wil die kollig vestig op hierdie Christene se noodkreet met die Arise Africa-veldtog. Dit is ʼn wekroep vir die wêreld en ander Christene om in te tree vir hulle broers en susters wat moord, marteling en ontvoering in die gesig staar, net omdat hulle in God glo.

“Ons wil by Christene in Afrika suid van die Sahara staan om hulle daaraan te herinner dat hulle nie vergete is nie. Hulle veerkragtigheid vir Jesus is vir ons ʼn baken van lig is en dit maak saak.

“Ek en jy het ʼn kans om by God aan te sluit in hierdie magtige werk deur deel te word van die Arise Africa-veldtog. Ons wil graag hê mense moet saam met ons opstaan as een kerk teen gewelddadige vervolging in Afrika.”

Hoe kan jy gelowiges op ons vasteland bystaan?

Gebed: Een manier waarop ons teen gewelddadige vervolging in Afrika suid van die Sahara kan opstaan, is deur vir ons geloofsfamilie in die streek te bid.

Skenking: Vir ʼn skenking so min as R295 kan jy reeds ʼn verskil in ʼn Christen se lewe maak.

Kom reis saam: Wil jy persoonlik jou broers en susters in die geloof bemoedig? Vanjaar is daar ʼn geleentheid om dit te doen deur by Geopende Deure aan te sluit vir sendingwerk in Afrika waar Christene vir hul geloof vervolg word.

Skep bewustheid: Help Geopende Deure om bewustheid te skep oor die nood van Christene op die vasteland deur by die organisasie as ʼn ambassadeur vir jou kerk aan te sluit. Hou jou gemeente op hoogte van die jongste nuus oor die veldtog om hulle in staat te stel om te bid en aksie te neem.

Besoek www.opendoors.org.za vir meer inligting of om deel te word van die Arise Africa-veldtog op een van die voorgestelde maniere.

*Ayuba is ʼn skuilnaam om die man se identiteit te beskerm.

  • Luister na Maroela Media se volledige onderhoud met Elizabeth Botha van Geopende Deure Suider-Afrika waar sy vertel van Ayuba se getuienis en hoe jy die Arise Africa-veldtog kan ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charles ·

Ongelukkig het dit vir die een of ander rede altyd die teenoorgestelde effek gehad sonder twyfel.

Delia ·

Ons moet ook net besef hier in SA dat ons hier vir ALMAL ook moet bid. Vir die Regerings ook.

Paul ·

Asseblief! Ons Christene in S.A. kom ons kom tesame gereeld om te bid. Om Onse Vader te versoek om aan ons ‘n verantwoordelike regering te gee wat die verval van onse pragtige land stuit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.