Gedagte vir die dag:  Broer!

Pad_vurk_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Hebreërs 2: 10-18

Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees … (Hebreërs 2:17-18)

Dit is die wonder van die Gesalfde van God: dat Hy aan mense gelyk geword het. Paulus sou dit só aan die Filippense verwoord: “Hy het Homself verneder deur … aan mense gelyk te word” (Fil 2:7).

Die Hebreërsskrywer jubel oor hierdie selfvernedering omdat hy hierin ‘n uitkomkans sien. Hy se: “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy die help wat versoek word.”

Ja, dankie, Jesus. Want ons sukkel erg. Die versoekings kom met reëlmaat op ons af, en ons swig net so gereeld daarvoor. Dit laat ons met aanhoudende selfverwyt. Ons ken nie geloofsgroei nie. Ons weet nie meer hoe smaak vaste kos nie, omdat ons so gewoond geraak het aan kitskos om ons geestelike honger en dors te bevredig.

U verstaan waarom U juis hiermee moet help? Want hoe ouer ons word, hoe minder raad het ons met hierdie versoekings. Ons sukkel om, soos vroeër, maklik nee te sê. Ons wonder deesdae selfs of ons Boosheid summier moet verjaag; die aanbod is dan so aanloklik.

En ons vind al makliker verskonings vir die afdraaipaaie wat ons kies. Ons gewete word al stiller. Ag, Here, ons verloor nou so maklik die spoor. En dit pla ons nie.

Dit is net .. . In hierdie Lydenstyd kom ons opnuut onder die indruk van wat dit U gekos het, Here Jesus, om ons te maak wat ons is: u susters en u broers. Kinders van dieselfde Vader. Lede van God se gesin, tuisgebring in sy huis.

Dan skaam ons ons dat ons so hartlik saamlag wanneer Boosheid begin gryns.

Ek is u kind, my Vader. Bevry my uit die bose.

Bron:  Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here Jesus dat U genade vir my genoeg is as die lewensstorms om my woed…open ons geloofs oe en ore in Jesus Naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.