As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe. (Matteus 5:23-24)
Ons vind dit maklik om ons te verbeel dat ons skielik by ’n plek in ons lewe sal kom waar ons ten volle voorbereid is, maar voorbereiding word nie skielik bereik nie. Om die waarheid te sê dit is ’n proses wat deurlopend gehandhaaf moet word. Dit is gevaarlik om tevrede en gevestig te raak in die huidige vlak van ons ervaring. Die Christelike lewe vereis voorbereiding en méér voorbereiding.
Die idee van opoffering in die Christelike lewe het ’n mate van aantrekkingskrag vir die nuutgebore Christen. Vanuit ’n menslike oogpunt gesien, is die een ding wat ons na Jesus Christus toe trek ons aanvoeling vir die heroïese. Wanneer ons egter die woorde van die Here noukeurig ondersoek, word hierdie vloedgolf entoesiasme beproef: “ … gaan maak eers vrede met jou broer … ” (Matt. 5:24). Die “gaan” van voorbereiding is daar om die Woord van God die geleentheid te gee om jou van nader te ondersoek. Jou gevoel van heroïese opoffering is nie voldoende nie. Die ding wat die Heilige Gees in jou sal ontdek, is daardie natuur van jou wat nooit in sy diens kan staan nie. En niemand behalwe God kan daardie natuur in jou ontdek nie. Is daar enigiets wat jy vir God moet wegsteek? Indien wel, laat God toe om jou met sy lig te deursoek. Indien daar sonde in jou lewe is, moet dit nie net erken nie, bely dit. Is jy gewillig om jou Heer en meester te gehoorsaam, ongeag die vernedering wat dit vir jou reg op jouself mag inhou?
Moet nooit ’n oortuiging wat die Heilige Gees in jou werk, geringskat nie. As dit belangrik genoeg is vir die Heilige Gees om dit onder jou aandag te bring, dan is dit die einste ding wat Hy in jou ontdek het. Jy was op die uitkyk vir een of ander groot ding wat jy moet prysgee, terwyl God besig is om jou te vertel van daardie klein dingetjie wat moet gaan. Maar agter daardie klein dingetjie is die vesting van eiesinnigheid wat sê: “Ek sal nie die reg wat ek op myself het, prysgee nie” – en dit is die einste ding wat God verwag dat jy moet prysgee as jy ’n dissipel van Jesus Christus wil wees.
Seker ook dié dat ons naasteliefde ons ‘verstes’ eerder betrek want die naaste tas ons selfliefde erg aan, terwyl die verstes ons groot en belangrik laat voel… Ons paadjie na die Paradys teël met charity-steentjies…
Here verlos my van die eie ek…in Jesus Naam
Dankie Here
U het nog nooit met my opgegee nie