Gedagte vir die dag: Die dae vertel vir mekaar

sonsopkoms_wolke_nuwe-dag_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. (Psalm 19:3-4) – Deel 1

Die storie van God se handewerk word van die een dag na die ander oorgedra. Dag en nag verteenwoordig die tydsiklus.

Dit was aand en dit was môre, die eerste dag, die tweede dag, die derde dag … Totdat ons op ’n dag so vindingryk was om die dag en datum aan die geboorte van Een Mens te gaan knoop, die Seun van God, God wat mens geword het, sodat ons vandag ’n datum het. En nog steeds, dag na dag, nag na nag, jaar na jaar word die boodskap van God se grootheid en heerlikheid voortgedra. Elke môre met ligdag staan ons verstom oor God se grootheid en heerlikheid wat voor ons oë ontvou. Elke aand as ons na die sterrehemel kyk, is ons verwonderd oor die heerlikheid wat dit uitstraal.

Die digter maak hier van dag en nag die boodskappers wat God se werke verkondig. In die nagdonker en op die helder middag is ons van God bewus. Hy is daar. Sy onmeetlike grootheid is sigbaar in sy almagswerke. Of ons na die sterre kyk, of na die berge en die see en die veld – God is daar. Elke skoenlapper en grassaad, elke insek en grootwild getuig daarvan: God is dáár. Hy is die Skepper-God.

Dit is nie net die dae en nagte wat van God se heerlikheid moet getuig nie. Sy sesdedagskepsels is by uitstek bevoeg én geroepe om van sy wonderdade te getuig. Ek en jy, mense wat na God se beeld geskape is, óns kan dag en nag deel van die getuieniskoor wees!

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.