Gedagte vir die dag: Die goue reël en beter

Foto: pixabay.com

Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen. Dit is die kern van die wet en die profete. (Matteus 7:12)

Mense sê soms dat alle godsdienste dieselfde is, want hulle almal bevat die sogenaamde goue reël: Behandel ander mense soos jy self behandel wil word. Dis ’n groot verbetering op die ysterreël, naamlik die sterkste een wen, of slaan voor jy geslaan word, oftewel die wet van die oerwoud. Jesus maak die goue reël hier nog meer goud, naamlik dat ek inisiatief moet neem en éérste iets goeds doen. Dan kan daar dalk ’n kettingreaksie plaasvind van vriendelikheid in ’n hele samelewing. Jesus maak dit beslis anders as ’n besigheidstransaksie (Ek gee jou iets goeds en verwag nou iets terug). Jesus vra dat ons sal gee sonder die waarborg vir terugkry, want dis om goed te doen uit jou eie geaardheid en beginsels. Uiteindelik gee Hy vir ons die diamantreël: Julle moet julle vyande liefhê. Dis hier waar Jesus se boodskap duidelik anders is as enige ander godsdiens.

Nou die moeilike vraag: Kry jy die goue reël reg? Hoe dikwels kry jy dit reg om eerste iets goeds te doen of te sê? Hoe vervang jy die ysterreël van slaan-eerste-voor-hy-slaan met goud?

Onderstreep gerus Matteus 7:12 in jou Bybel.

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.