Gedagte vir die dag:  Die sin van die lewe

see_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Lees 1 Korintiërs 1:18-31

Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid  van God is, is groter krag as die krag van mense. (1 Korintiërs 1:25)

Dit is dus amptelik: Die Christelike godsdiens is vol teenstrydighede. Met een enkele sin bevestig Paulus dit: onsin teenoor wysheid; swakheid versus krag; die wêreld-en-sy-mense teen God.

Die Christelike boodskap voldoen ook nie aan alle verwagtings nie. Die Jode wil eers wonderwerke sien; die Grieke dring daarop aan om te verstaan. En al wat Paulus hulle kan bied, is die vreemde prentjie van ’n Man aan ’n kruis. Wat geen wonderwerk verrig deur Homself daar af te help nie. Wie se weerloosheid onbegryplik is.

Nee, nie Jood óf Griek vind hierby aanklank nie.

Trouens, weinig geleerdes of invloedrykes of mense met aansien het hulle hier tuis gevind (vgl. v. 26). Die aanhangers van die Christelike godsdiens het in daardie beginjare dus hoofsaaklik uit ’n klompie beroepsverloorders bestaan. Niks en niemand om oor huis toe te skryf nie.

Paulus skryf hier wel twee woorde neer, elkeen meer as een keer, wat sake in ’n effens ander perspektief plaas: “geroep” (v. 24, 26) en “uitgekies” (v. 27, 28). Met God die een wat dit alles doen. Dit is Hy, bevestig Paulus, wat mense geroep en uitgekies het om te glo.

Hoe bevoorreg is die geroepenes nie, en hoe begenadig die uit- verkorenes! Hulle hoef aan geen kwalifikasie te voldoen en geen wet na te kom nie. Hulle is wie en wat hulle is omdat God hulle gebring het tot waar hulle is. Dit is Hy wat die antwoord op daardie ewige raaisel oor die sin van die lewe in hul skoot laat val het.

U roep en kies toe ook vir mý, van almal. Prys die Heer!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JM ·

Die Christelike geloof is die énigste geloof waar die mens geen teenprestasie hoef te lewer nie, maar alleen moet glo! Genade onbeskryflik groot!

Yvonne ·

Dankie Here vir genade onbeskryflik groot….elke belofte is geldig want U is nie mens sodat U kan lieg nie…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.