Gedagte vir die dag:  Die tuiste

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 84:1-7

Selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here … Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is … (Psalm 4-5)

Die voëls van die hemel en die mense van die aarde. Almal is tuis in die Here se huis. Só sê hierdie psalmdigter.

Hoewel dié psalm in die tyd van tempels en sinagoges geskryf is, hoor ons dit vandag steeds in ons kerk: die trippeltrap van voëltjievoete op die kerk se plafon, die koergeluid van duiwe op  of binne die dak. O, en die onwelkome en dikwels onwelriekende getuienis van hul teenwoordigheid. Laasgenoemde dikwels op die kerkraad se kosbare plaveisel …

Ek wonder soms of die hoorbare en sigbare teenwoordigheid van die veervolk vir die ou priesterhoofde en tempelbestuurders en sinagogebase ook so ’n ergernis was soos dit klaarblyklik vir hedendaagse kosters en leierouderlinge is. Het hulle ook vergadering op vergadering gehou oor “die probleem van die voëls wat by die kerk nes maak”? Het hulle ook oplossings voorgestel wat wapen- geweld en gif insluit?

Ek hoop nie so nie. Want as dit van altyd af so was dat die hemel se voëls ’n blyplek in die Godshuis gegun is, dan ontneem dit ons, die moderne kerkgangers, die alibi om tot elke prys van daardie klein skepseltjies ontslae te raak.

Dan blý hulle na aan ons, sodat ons hulle gereeld kan hoor en sien. Sodat ons herinner kan word aan Jesus se troos wanneer ons bekommerd is. Hoe Hy gesê het: “Kyk na die wilde voëls … julle hemelse Vader sorg vir hulle” (Matt 6:26).

Hoeveel te meer sorg Hy nie vir ons nie, ons wat ook by sy altare ’n tuiste gevind het?

Here, dankie dat ook ek die kerk “my tuiste” kan noem. Daar beleef ek u sorg.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here vir elke kosbare geskenk uit U Hand….n voeltjie, U sorg, die hele skepping.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.