Gedagte vir die dag: Dink met dank – my gesondheid

twee stap_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hulle het geen lyding nie, en is vet en gesond. Hulle het nie sorge soos sterf linge, of teëspoed soos ander mense nie. Daarom is trots hulle halssnoer. (Psalm 73:4-6)

Ons almal verwag dat ons baie oud gaan word en al die pad gesond gaan bly. So iets glo mens uit ’n positiewe optimisme, iets wat God van nature in ons ingeskape het. Dan is daar ook die moderne mediese wetenskap wat ons laat glo dat dokters ons van baie siektes gesond sal kan maak. Maar dan tref iets jóú, nie iemand anders nie. Skielik is jy ernstig siek of selfs gestrem. Veral wanneer dit met ouderdom gepaardgaan, is dit angswekkend – ék word oud en siek!

Maar om siekte só te beleef, is uiters gesond – gesond vir jou menswees en jou geloof. Dis gesond omdat jy dan skielik jou totale afhanklikheid van die Here besef. En ook besef dat gesondheid ’n genadegawe is en nooit my reg nie. Ook gee dit deernis vir ander mense se siektes en beperkings, wat moeilik is vir iemand wat altyd sterk en gesond is. Hoe gesond was jy meestal? Volkome gesondheid gaan ongelukkig dikwels gepaard met ernstige blindheid – blind vir die genade van doodgewoon te mag léwe.

Lees Psalm 73:4. Dis nie net voorspoed wat hierdie mense te trots maak nie, dis ook gesond wees.

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.