Gedagte vir die dag: Dink met dank – ons kinders is mooi

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Moenie dat jy tekort skiet aan liefde en getrouheid nie. Koester dit soos iets waardevols wat jy om jou nek dra. Skryf dit op die tafel van jou hart. (Spreuke  3:3)

Elke ouer dink hul kinders is pragtig, en elke ouer blom as iemand anders dit sê. Maar die mooiste kinders is nie dié wat die babakompetisie of die skool se skoonheidswedstryd wen nie. Die mooiste kind is dié een wat mense en die lewe mooi hanteer. Dis só ’n kind wat uitstaan tussen die baie kinders op skool en oor wie die onderwysers glimlag. Uiteindelik is dit ’n kind se opvoeding wat tel. Uiteindelik kan ouers dus hul kinders mooier maak deur vir hulle die regte opvoeding te gee. Die boek Spreuke sê dat mens kinders só mooi maak.

Spreuke 3:3 praat van opvoeding letterlik as versierings. Die Spreuke-digter vra kinders om liefde en trou soos ’n mooi halssnoer om hulle nek te hang. As ek my kind goeie maniere leer, maak ek hom of haar werklik móói, dalk die mooiste in die hele skool.

Dink na oor die waardes wat jy vir jou kinders leer en fokus opnuut op die innerlike skoonheid waarvan Spreuke 3:3 praat.

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.