Gedagte vir die dag: Doodsbestaan

man_eensaam_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Romeine 7:14-25

Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. (Romeine 7:15)

Trouens, skryf Paulus verder, ek is ’n gevangene van hierdie ellendigheid, dit hou my in sy tronk (vgl. v. 23).

Ook maar mens, sal ons sê en hartlik saamstem: Ons is doodgewoon nie wat ons wil wees nie. Ons slaag nie in ons voornemens nie, ons bereik nie ons eie hoë ideale vir onsself nie.

Nou skud ons ons kop, haal ons skouers op en sê: As die grote Paulus so iets oor homself sê, is ons darem seker nie so erg van koers af nie. Ons hoor ons eie stem wat sê: Ag nou ja, ook ék is maar net ’n mens …

Ons hoor nie dat Paulus bely dat dit niks minder as die sonde is wat in hom woon nie (vgl. v. 17). Hoe hy desperaat uitroep dat dit ’n “doodsbestaan” is. Dat hy daarvan “verlos” moet word (v. 24). Ons is te besig om onsself op die skouer te klop om die selfverwyt in Paulus se stem te hoor. Om te hoor hoe hy treur oor verlore geleenthede en verspeelde kanse.

Dit is straks daarom dat ons sy dankbaarheid oor Christus se verlossing net in die verbygaan verneem. Kan dit ook wees dat ons die krag van hierdie bevryding uit die doodsbestaan onderskat?

Nee, Paulus se gevangenskap in die sondetronk is geen grap nie. Daarom praat hy ook nie ligtelik oor sy verlossing daaruit nie. Ons moet dit goed hoor: Dit het Jesus se dood gekos dat ons kan lewe. Dit is ’n buitengewone waarheid. Dit roep om lewenslange dankbaarheid.

Liewe Here, hoe kosbaar is Jesus se offer nie! Leer my tog om nooit ligtelik oor “my verlossing” te praat nie.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.