Gedagte vir die dag:  Ek kyk op na die hemel

Stiltetyd-22.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Lees Psalm 8

As ek die hemel aanskou, die werk van u vingers … wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?  (Psalm 8:4-5)

Ons weet nie of iemand hierdie psalmdigter aan die hand geneem en hom gewys het waar om te kyk nie.  En ons weet nie of hy soos Job eers ‘n klomp vrae moes beantwoord voordat hy tot die besef gekom het dat hy iets buitengewoons beleef nie.

Al wat ons weet, is wat sy bewerige vinger ons wys en wat sy stem vol emosie ons vertel.  Gestroop van al die verwondering en lofredes, sien en hoor ons net een dinge by hierdie digter:  Kýk net wat Hy gedoen het! God is groot!

Ons sien en hoor ook sy verbystering wanneer hy uitroep:  Óns? U kyk na óns? U dink aan ons, U vertrou ons met ‘n vername werk.  U het iets uit niets gemaak. God is goed!

Die geheim agter die gewaarwordinge, só lyk dit my, is dat hier psalmdigter verder gesien het as wat sy lysie behoeftes en begeertes lank was.  Dat hy verby boosheid en beswaardheid gekyk het. Dat hy die Ster gesien het. En dat hy Hom vir al wat leef en beef uitgewys het.

Sterrekykers, sal ons uit die Matteusverhaal onthou, is ook reisigers.  En al is dit bloot in hul gedagtes, pak hulle gereeld ‘n nuwe avontuur aan.  Dit maak dat hul oë gereeld blink en hul hart opgewonde bons, want hulle volg ‘n spoor wat die Groot Gedagte hulle wys.

Boonop vind hulle groot vreugde daarin om almal wat hul pad kruis, nader te wink, boontoe te beduie en te sê: Kýk!

Here, ek kyk gereeld op, verby die berge, anderkant moedverloor se vlakte, na u hemel.  Daar, so weet ek reeds, sal my hulp vandaan kom.

Bron: Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie My Heer en Meester…. U die Almagtige God ken my by die naam…Amen

charlotte ·

Ek Loof en Prys U Heilige Naam. Here U genade is vir my genoeg. AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.