Gedagte vir die dag: Ek weet iets van jou

amilie_sonsopkoms_hou-hande_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam. (Kolossense 3:14)

Ek weet iets van jou wat baie ander mense dalk nie weet nie. Jesus het my dit geleer. “Wat?” vra jy dalk. Wel, ek het by Hom geleer dat jy my naaste is. Dag vir dag leer ek by Hom om vir jou om te gee soos vir myself. Ek weet ek kan nie vir God liefhê as my hart hard is teenoor jou nie. God se liefde is prakties en konkreet. Sy liefde is nie net woorde nie, maar nuwe verhoudings en nuwe dade. Daarom het ek geleer om nie boek te hou van ander mense se foute nie. Ook nie van joune nie. Ek bevraagteken nooit jou motiewe nie. Ook verwag en glo ek die beste van jou soos wat die Bybel my leer.

Jy sal dalk agterkom dat ek deesdae groter geduld het met jou. My woorde is heelwat sagter en ook meer opbouend. Omdat ek altyd eerlik is met jou sal ek vir jou sê as daar iets is wat krap tussen ons. Ek sal jou nooit agteraf beskinder of jou naam met modder gooi in jou aanwesigheid of afwesigheid nie. Jou integriteit maak vir die Here saak; ook vir my. As jy in die nood is, sal ek daar wees vir jou. Jou laste kry graag ’n rusplek op my eie skouers. Ek doen dit nie net omdat jy gaaf of vriendelik is of omdat ek wil hê jy moet dit later terugdoen vir my nie. Ek volg die roete van naasteliefde met jou en met ander mense omdat ek weet die Here gee baie om vir jou. Oor en oor leer ek by Hom om dieselfde te doen. Om jou te dien, vul my lewe regtig met eindelose vreugde.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.