Gedagte vir die dag: Fonteine van seën

 fontein-water-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“ … (D)ie water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Johannes 4:14)

Die beeld wat die Here hier beskryf, is nie net dié van ’n gewone stroom water nie, maar van ’n opborrelende fontein. Hou aan om … vervul … te wees (Ef. 5:18) en die heerlikheid van jou lewende verhouding met Jesus sal so oorvloedig uit jou vloei as wat dit aan jou gegee is. Indien jy vind dat sý lewe nie opborrel soos wat dit veronderstel is nie, is jy te blameer, daar is iets wat die vloei verhinder. Het Jesus dalk gesê dat jy op die bron gefokus moet bly sodat jy persoonlik geseën kan word? Nee, jy moet op die bron fokus, sodat strome lewende water uit jou binneste kan vloei, lewe wat jy nie kan onderdruk nie (vgl. Joh. 7:38).

Ons moet daardie fontein wees waardeur Jesus as strome lewende water kan vloei tot seën vir elke mens. Tog, sommige van ons is soos die Dooie See, ons ontvang gedurig, maar gee nooit uit nie omdat ons verhouding met die Here Jesus nie reg is nie. So seker as wat ons seën van Hom ontvang, sal Hy seën deur ons laat vloei. Maar die oomblik dat die seën nie in dieselfde maat uitgegiet word as wat dit ontvang word nie, ontstaan ’n defek in ons verhouding met Hom. Is daar enigiets tussen jou en Jesus Christus? Is daar enigiets wat jou geloof in Hom verhinder? Indien nie, sê Jesus sal daar uit jou binneste strome lewende water vloei. Dit is nie ’n seën of ervaring wat jy met ’n ander deel nie, maar ’n rivier wat voortdurend deur jou vloei. Bly by die bron en waak versigtig oor jou geloof in Jesus Christus en oor jou verhouding met Hom en daar sal ’n standhoudende stroom in ander se lewe invloei, met hoegenaamd geen dorheid of doodsheid nie.

Is dit ’n oordrywing om te beweer dat riviere uit een enkele gelowige sal vloei? Kyk jy dalk na jouself en sê: “Maar ek sien geen riviere nie?” Dwarsdeur die geskiedenis van God se handeling met die mens, sal jy vind dat Hy gewoonlik die obskure, die onbekende, die geïgnoreerde kies, die een wat standvastig was in sy trou aan Jesus.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.