Gedagte vir die dag: Bybelse wysheid bring goeie onderskeidingsvermoë

Argieffoto (Foto: Jeremy Perkins)

“Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees” (Josua 1:8).

Skrifgedeelte
Josua 1:8

Oordenking
In ʼn studie in die vaktydskrif Nature bevind Elke Weber en ʼn paar ander navorsers dat mense se opinie oor klimaatsverandering grootliks bepaal word deur huidige weerstoestande. As dit warm is, glo mense klimaatsverandering gebeur. As dit kouer is, dink die meeste mense glad nie hieraan nie. Ons belewenisse bepaal dus in ʼn groot mate ons denke en opinies oor enigiets in die lewe. Ons is nie regtig so objektief soos wat ons dink nie. Ons hoef ook nie te wees nie, mits ons nie vasval in dwase subjektiwiteit nie. Dan val ons vir enigiets.

Ons moet voortdurend bewus wees van ons eie menslikheid en al ons beperkings voor die Here. Ons beskik ook oor die kapasiteit om te leer en te dink. En om geestelik te groei. Trouens, ons moet. Ons moet groei in ons geloof. Hier is die Bybel ons belangrikste klankbord, ons meningsvormer en ons fondament. As die Woord die lig op ons pad is, hardloop ons nie blindelings agter elke stem of emosie aan nie. In die Bybel leer ons om te onderskei tussen waarheid en leuen, en tussen wysheid en dwaasheid. Dit hou ons op die regte koers.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.