Gedagte vir die dag: Ek is opreg dankbaar vir die kos

Argieffoto (Foto: Jon Tyson/Unsplash)

“Toe neem Jesus die sewe brode en die visse, bid om God se seën, breek die brood in stukke, en gee dit aan sy dissipels, en die dissipels weer aan die skare” (Matteus 15:36).

Skrifgedeelte
Matteus 15:36

Oordenking
Daar is een gebed wat ek nooit bid nie. Baie mense bid dit. Ek praat van daardie gebed voor etes: “Maak ons opreg dankbaar vir die kos.” Ek bid dit nie, want ek is opreg dankbaar. Dit is lankal verhoor. My vrou se kos is hemels. Terloops, ek wonder wat dink al die kosmakers as bidders jare lank bid dat hulle tog opreg dankbaar gemaak moet word vir die kos? “Gaan die Here ooit hierdie gebed verhoor?” En ek wonder nogal wat die Here hiervan dink. Om oor en oor te moet hoor hoe mense bid dat hulle dankbaar gemaak moet word vir hulle kos, moet in die hemel registreer as kleingelowige gebed.

In elk geval, toe ek iewers by ʼn plek praat, verwys ek na hierdie tafelgebede. Kort hierna vertel ʼn vriendin dat sy dit met haar ouers gedeel het. Haar pa het net geluister en niks gesê nie. Toe, by die volgende ete, bid hy: “Here, ons is opreg dankbaar vir die kos.” Wonderlik! Ons almal moet leer om reg te bid. Gebede tydens etes is nie net mooi seremonies nie. Ons praat met die Here. Ons dank Hom opreg vir al sy goeie gawes. Ons kom dankbaar hier aan.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hettie ·

Hoe kan ons iemand oordeel wat vra: “Maak ons opreg dankbaar vir die voedsel wat vir ons voorgesit is”? Is dankbaarheid nie die fondament van ons geloof nie? Kan ons nie maar eers dankie sê voor ons vra nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.