Gedagte vir die dag: Gee ons tog goeie leiers

Argieffoto (Foto: Junior Reis/Unsplash)

“Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees” (Matteus 20:26-27).

Leierskap!

Ons gemeenskap het ʼn gebrek aan goeie leiers. So hoor ons dit dikwels in die media en uit die mond van kommentators. Ons ervaar ook self dat daar op talle belangrike terreine oor die wêreld heen swak leierskap is. Dit dreig na ʼn krisis in talle sfere.

Ons Here Jesus se wyse woorde gee aan ons ʼn maatstaf vir leierskap, vir groot wees as leier. Dit is ʼn waarheid wat die eeue oorspan. Meet jouself as leier daaraan en volg sulke leiers na.

ʼn Moeder wat graag haar seuns as grotes in die koninkryk van die hemel wou sien, het hulle genomineer om aan koning Jesus se linker- en regterkant te sit (Matteus 20:21). Groot! Magtig! Belangrik! Dit sou haar ego streel en trots maak.

Deur ʼn kort vergelyking wys Jesus haar nominasie af, maar dui tegelykertyd vir sy dissipels en almal daarna wat Hom volg, die pad aan. Hy vergelyk die leiers van die nasies met die grotes in die koninkryk van die hemel.

Dalk moet ons eers verduidelik waar is die koninkryk van die hemel. Dit is nie ʼn heerskappy vir die hiernamaals nie. Inteendeel, Jesus het die koninkryk op aarde laat deurbreek. Johannes die Doper het aangekondig: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom!” (Matteus 3:2). So ook Jesus (Matteus 4:17). Bekering op elke lewensterrein waar Jesus as koning gerespekteer word. Ook waar leiding gegee word. Eerstens in die kerk, maar ook in die gemeenskap en op staatkundige terrein.

Jesus skets in eenvoudige taal die verskille: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik” (Matteus 20:25). By die nasies, dit wil sê waar die koningskap van Jesus nie erken word nie. Daar staan die mens en sy begeertes voorop. Twee onaanvaarbare maniere van regeer word afgewys: baasspeel en magsmisbruik. Is dit nie tipies in die leierskapkrisis van ons tyd nie? Die katastrofiese gevolge daarvan is oral sigbaar.

Ons Koning wys ʼn radikaal ander pad aan: “Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees” (Matteus 20:26-27). So het Hy self gedoen. Die grootste as Messias, maar tog dienaar. Gehoorsaam aan sy opdrag, nederig, opofferend. Selfs sy lewe is as losprys gegee sodat die mense wie se koning Hy is, vrygespreek kon word.

Wat ʼn ontsaglike groot verskil! Nie baasspeel nie, maar diens. Nie magsmisbruik nie, maar nederig en dienend soos ʼn slaaf. Wie kan so ʼn groot leier wees? Diegene wat deur Jesus verlos is van hulle ou sondige natuur. Wie in Hom glo, se leierskapstyl vertoon die vrug van bekering. Vry van selfgerigtheid. Die groot leier styg uit in dienslewering. Eerstens teenoor jou Koning, maar ook tot voordeel van die mense wie se leier jy is.

Mag ons Koning Jesus Christus sulke leiers bemagtig en vrymoedigheid gee om getroue burgers in sy koninkryk te wees!

Gebed
Ons Vader in die hemel, hoe wonderlik lei U ons nie op die pad wat Jesus oopgemaak het nie. Ons dank U daarvoor! Amen.

Pitkos
“Om die Here te dien, is om onderrig te word in wysheid; nederigheid kom voor eer” (Spreuke 15:33).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here my gebede is vir leiers wat U self sal kies om U werk te doen…want alles en almal behoort aan U…Amen

skurweberg ·

Here openbaar U self aan ons deur U Gees die Trooster wat Chritus self aan ons gegee het om tot U eer te lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.