Gedagte vir die dag: Geloof is meer as bril-sake

Argieffoto (Foto: Marcos-Paulo Prado/Unsplash)

“Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie” (1 Korintiërs 13:4).

Skrifgedeelte
1 Korintiërs 13:4

Oordenking
Iemand vertel my nou die dag dat mense wat hulle ken nie meer die eredienste bywoon by ʼn gemeente waar ek soms preek nie. Die rede? Ek is blykbaar ʼn vrymesselaar, want ek kyk soms bo-oor my bril na mense. Ek kon my ore nie glo nie. My bril-kyke is toe die ding!

Toe verduidelik ek maar vir die persoon wat dit met my deel dat ek ʼn multifokale bril dra. Soms kan ek nie behoorlik deur die regte lens gekyk kry as ʼn groot gehoor voor my sit nie; dan loer ek sommer kortpad bo-oor my bril. Ek het werklik gedink mense vorm op grond van meer substansiële dinge – as hoe iemand oor sy bril na hulle kyk – hulle opinies wanneer geloofsdinge ter tafel is.

Mag ons almal mekaar met meer waardigheid in die Heer se Naam behandel as om onsself blind te kyk teen mekaar se maniërismes (en vrou-ërismes!). Mag ons vanjaar ook verby mekaar se swakhede en gebreke kyk totdat ons die Here se genade in mekaar ontdek. Dan sal ons mekaar nie so maklik veroordeel nie. Of onwaarhede oor mekaar glo nie.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.