Gedagte vir die dag: Hoop vir verdwaalde skape

Argieffoto (Foto: Jovana Askrabic/Unspalsh)

“Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom” (Jesaja 53:6).

Oordenking
Die herder-skape-metafoor loop dwarsdeur die Bybel. God is die Herder, sy volk die skape. Hy is die groot Herder wat mense as herders aanstel. Hy vra rekenskap van daardie herders oor sy skape wat verdwaal het, of siek is, OF dalk weggeraak het. Jesaja 53 spel ʼn tipiese swakheid van die skape uit. Hulle kies dikwels moedswillig hulle eie pad, draai hulle rug op God as Herder.

Diere-skape raak maklik weg, veral as hulle nie naby die herder bly nie. Wanneer mense-skape egter wegraak, is dit mense met verstand en gewete wat moedswillig ʼn ander pad kies. Die Herder het twee keuses. Óf Hy kan die mense laat begaan, sodat hulle geen band met Hom meer het nie – verlore raak. Óf die skape word gered.

God het besluit om sy skape te red. Omdat dit moedswillige mense is wat verdwaal het, staan hulle skuldig voor die Herder. Hulle het gesondig.

Hoeveel verdwaaldes is daar nie vandag nie. Hulle is die Herder se skape, wat Hom ken, die evangelie gehoor het, deel van die kerk is of was, maar wat hulle eie pad begin loop. Selfsugtig, soekers van genot in plaas van God, afgodsdienaars wat op ander dinge as God vertrou. Skape wat agter ander misleidende herders aanloop en die waarheid verloën.

So baie van die volk Juda was destyds openlik afvallig. So erg dat God hulle deur Jesaja met die goddelose Gomorra laat vergelyk het (Jesaja 1). Hierdie Herder het die volste reg gehad om hulle met die verskriklike ballingskap te straf. Tog het Hy nie die hele kudde vernietig nie. Sy doelwit met sy volk raak sy eer, want die werke van die bose, wat sy skape wil verslind, sal vernietig word.

Daarom kom die aankondiging van verlossing, op grond van sy liefde en barmhartigheid. Jesaja roep uit: “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom” (Jesaja 53:6). Hy stuur ʼn dienaar, sy eie Seun, wat sy verdwaalde skape se straf op hulle sondes kom dra. Soos daar vir die verlore seun genade en vergifnis was, soos die een skaap uit honderd gesoek en met blydskap gevind word, net so is daar vergifnis vir elke verdwaalde wat terugkeer.

Mag ons ook die goeie Herder se stem hoor op die dwaalpad waar ons moontlik kan wees. Keer terug, want ek betaal vir jou afdwaal-sonde! Vertrou op Hom. Glo sy evangelie en dra dit uit. Aanvaar sy liefde. Bly dan by Hom. Keer ook die ander skape wat versoek word om die dwaalpaaie te gaan ondersoek.

Gebed
Getroue Herder, ons begryp so min van u hart se vergewensgesindheid. Tog vul dit ons met hoop en dank, wanneer ons afgedwaal het en wil terugkeer. Wees ons genadig. Lei ons terug en vergewe ons ter wille van Hom wat vir ons sonde gely het. Amen.

Pitkos
“Soos ʼn herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie” (Jesaja 40:11).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit is deel van Opperman se Manna en kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Amen….dankie Here U woord leer my van die liefde vir n sondaar….wat n wonderlike genade is dit nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.