Gedagte vir die dag: Nederigheid

Argieffoto (Foto: Gray/Unsplash)

“Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade ” (1 Petrus 5:5).

Skrifgedeelte
1 Petrus 5:5

Oordenking
Onthou altyd hoogmoed kom tot ʼn val. Ons Here Jesus Christus was die nederigste Man wat ooit op die aarde gewandel het. Onthou ook, om nederig te wees, beteken nie om swak te wees nie. Dit is beheerde krag – dit is wat nederigheid is.

Moses was nie ʼn swak mens nie en tog sê die Bybel duidelik in Numeri 12:3 dat hy die nederigste man op aarde in daardie tyd was. ʼn Man wat ʼn hele nasie 40 jaar deur die woestyn kon lei en sy staf in geloof oor die see kon uitstrek sodat God se mense daardeur kon loop, kon beslis nie swak gewees het nie. Ons moet meer saggeaard wees in die stresvolle tye waarin ons leef. Ons moet mekaar voorkeur gee; ons moet mekaar liefhê. Die nederigste gelowiges is die lieflikste gelowiges. Augustinus het gesê: “Dit was trots wat engele in duiwels verander het; dit is nederigheid wat van mense engele maak.”

Jong man, behandel die jong meisie wat jy uitneem met die grootste respek en sagmoedigheid. Moenie bang wees om op te staan en vir ʼn bejaarde dame jou stoel aan te bied nie. Jy is nie ʼn sissie as jy dit doen nie, jy is ʼn nederige man van God. Dit is die dinge wat van jou ʼn nederige man of vrou maak. Dit is nie soseer die dinge wat ons sê nie, maar wie ons is, wat ʼn impak maak op mense. Leef daarom uit die krag van God en die nederigheid van Jesus Christus.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.