Gedagte vir die dag: Raak kalm met jou tong

Argieffoto (Foto: Guillaume de Germain/Unsplash)

“Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde” (Spreuke 18:21).

Skrifgedeelte
Spreuke 18:21

Oordenking
Besluit sommer hier, aan die begin van die jaar dat jy nie hierdie jaar ʼn slagoffer van jou eie tong gaan wees nie. Jy gaan nie ander se menswees en hulle menswaardigheid deur die modder sleep as jy met – of ván – hulle praat nie.

Maak Spreuke 10:20 hierdie jaar jou kompas. Hierdie teks sê wyse mense se woorde is soos silwer. Vermy die roete van ʼn gevaarlike tong waarna Spreuke 18:21 verwys. Dit is een wat so skerp is soos ʼn mes. Jou tong kan soms meer skade aanrig as messteke. Ja, jy mag verskil van ander mense, maar jy doen dit nooit ongeskik nie. As ander dit aan jou doen, praat jy nie saam in hulle goor koor nie. Spreuke 24:29 sê tog vir ons ons met moet nooit in gelyke munt terugbetaal nie.

Jy leef en praat altyd met integriteit, al is dit net jy wat dit doen. Jy is nie die res wat geen wag voor hulle mond het nie. Jy is die Here se mens. Jou woorde eer Hom. So breek jy deur daardie dodelike spiraal van gevaarlike taal.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.