Gedagte vir die dag: Sal God weer oordeel?

Argieffoto (Foto: Yannick Pulver/Unspalsh)

“Toe sê die Here: “Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot!” (Genesis 18)

Oordenking
Daar is soveel skokkende, wrede en korrupte dinge aan die gebeur in die wêreld. Sommige hou net aan en aan. Dit is asof die oortreders nooit hoef te boet vir hulle dade nie. Dan kom die vraag: Sal God weer oordeel?

Die Bybel is God se Woord, waarin sy wil beskryf word. Ook sy oordele. Die bekendstes is sekerlik die sondvloed in Noag se tyd. Maar dan ook Sodom en Gomorra wat met vuur en swael uitgebrand is. Dit is nie deur mense gedoen nie, want die vuur het uit die hemel gekom. God self het opgetree.

Sal God weer oordeel? Ja, beslis. Die geskiedenis van Sodom en Gomorra se vernietiging word breedvoerig beskryf.

Reeds toe Lot gekies het om naby Sodom te gaan woon, word in Genesis 13:13 gesê: “Die inwoners van Sodom was sleg: hulle het baie gesondig teen die Here.” Die Here spreek sy ontevredenheid uit in Genesis 18:20: “Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot!” Sonde teen die Here roep om oordeel.

So sal Jesus weer as regter kom oordeel. Sommige spot daarmee, soos reeds in die apostel Petrus se tyd. “Wanneer sal julle Jesus weer kom? Dis nou al so lank ná sy hemelvaart!” In 2 Petrus 3:7 skryf hy aan gelowiges, wat soos vreemdelinge en bywoners gevoel het: “Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.”

God se oordeel word deur waarskuwings voorafgegaan. Hy is geduldig en gee tyd vir bekering. Hy spreek die sondaars aan deur sy Woord. Die Bybel leer wat sonde is. Ook deur rampe in die natuur. Oorloë vertel ook dat Christus weer sal kom.

Tog kom die oordeel finaal. Abraham het om genade gepleit. Die Here was bereid om ter wille van tien regverdiges Sodom te spaar. Maar daar was nie soveel nie. Net Lot en sy kinders word gered ter wille van Abraham.

Hoe reageer ons op die waarskuwings van die almagtige God, wat vandag volop is?

Ignoreer ons dit, asof die oordeelsdag nooit sal kom nie? Word sonde goedgepraat omdat die Bybel sy gesag verloor het? Allerlei slim verklaringsmetodes, byna soos die Skrifgeleerdes in Jesus se tyd, om weg te kom met sondige optrede! Bid ons vir uitkoms en verligting van die nood om die regte redes? Of is dit net uit eie selfsugtige motiewe? Of is daar opregte berou en bekering? Hartseer oor ons sonde, persoonlik en as kerke, maar ook deur  ʼn hele volk?

Moenie die genadetyd laat uitloop nie. Hoor God se waarskuwings. Roep ook ander op tot respek vir God se gesag. Wees opreg in jou bekering en gebede. Die eer van God moet voorop staan.

Jesus se koms sal onverwags kom. Maar dit kom beslis.

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marietjie ·

Amen!! Alhoewel dit vir God nie ‘n verrassing gaan wees nie, sal sommiges hier op aarde ‘n wrede verrassing kry, (Hy sal wag totdat elke mens op aarde die Ware en Heilige Woord gehoor het)…inderdaad genade tyd, waarop ons moet begin inkoop!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.