Gedagte vir die dag: Tree wys op in ʼn ongelowige omgewing

Argieffoto (Foto: Tegan Mierle/ Unsplash)

“Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het” (Deuteronomium 4:6).

Oordenking
Die volgelinge van Jesus leef tussen ongelowiges. Net soos die ou Israeliete tussen die heidense nasies geleef het. Wie beïnvloed vir wie? Wie dui die koers aan?

Moses wys die volk op die belangrikheid van die voorskrifte van die Here (Deuteronomium 4). Hulle lewe daarvolgens kon ʼn getuienis teenoor die buurvolke wees. Hy herinner hoe die vroue van Midian hulle deur losbandige seks in die strik van afgodsdiens laat trap het (Numeri 25). Daarteenoor gee Moses die opdrag: “Gehoorsaam die voorskrifte (van die Here) en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het.” (Deuteronomium 4:6). Met ander woorde: Julle diens aan die Here moet ʼn positiewe invloed op ander hê.

Vir jou as Christen geld dieselfde opdrag. Jesus het geleer dat ons soos goeie sout in die (goddelose) wêreld moet wees. Ons moet die lig wat Hy in ons lewe gee na buite uitstraal. Petrus skryf: “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien, en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” (1 Petrus 2:12).

Moenie toegee aan sondige begeertes nie, maar laat jou lei deur die Woord en Gees van God.

Waarom? Is dit nie outyds en onvanpas om vandag nog aan die Bybelse opdragte gehoorsaam te wees nie? Dit was tog vir die mense van daardie tyd bedoel, sal iemand dalk sê. Alhoewel daar sommige opdragte was wat vir spesifieke omstandighede gegeld het, is daar egter ʼn leefstyl wat tot eer van God is, wat nie tydgebonde is nie.

Dieselfde motivering van Moses geld vandag nog: “Daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het.” Wysheid en insig is so noodsaaklik – altyd, maar ook vandag. Die mensdom soek oplossings vir so baie dinge wat skeefgeloop het. Vir aardverwarming, vir siektes, vir haat en oorlog, vir wreedheid teenoor die swakker lede van die gemeenskap, vir armoede en vir korrupsie. Lê die oorsprong vir daardie dinge nie dikwels in ongehoorsaamheid aan ons God en Skepper nie?

Waar jy ook al betrokke is, kan jy in gehoorsaamheid aan die Here se voorskrifte wysheid saai. Leef uit wat jy in die Woord leer. Volhard daarin. Dan sal die ongelowiges se oë oopgaan vir wysheid en insig. Dalk nie dadelik nie, want jy kan uitgekryt word vir ʼn dwaas, misdadiger, of vreemdeling in die moderne wêreld. Tog sal die wysheid van Christus seëvier, want Hy is die weg, die waarheid en die lewe.

Gebed
Ons Vader in die hemel, u woord is wysheid. Ons wil daarvolgens leef. Amen

Pitkos
“Op ʼn ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Johannes 8:12).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.