Gedagte vir die dag: Wonderlike seëninge

Argieffoto (Foto: Benjamin Voros/Unsplash)

“ʼn  Psalm van Dawid; ʼn onderwysing. Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is” (Psalm 32:1).

Skrifgedeelte
Psalm 32:1

Oordenking
Wat ʼn pragtige belofte van die Here vir ons vandag – versoen met God, teruggebring by Jesus. Wanneer die Here ons vergewe, vergeet Hy ook. Hy is nie soos ons nie wat vergewe en dan wanneer die oomblik ons pas, sê: “Onthou jy daardie ding wat jy aan my gedoen het?” Jesus doen dit nie. Dit is waarom dit so ʼn groot seën is om deur die Here vergewe te wees.

Jy hoef nie vir die hemel te wag om vergewe te word nie – dit kan vandag hier op die aarde gebeur. Johannes 3:16 sê: “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

Jy kan dit nie verdien, koop of daarvoor werk nie – dit is gratis. Ontvang daarom bloot God se vergifnis. Daar is iemand in die Bybel wat presies verstaan het wat dit beteken: sy naam is Saggeus. Jesus het vir hom gesê: “Ek moet vandag by jou tuisgaan” (Lukas 19:5) en dan lees ons Saggeus se reaksie ná Jesus se besoek in vers 8: “Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ʼn slenter bekom het, gee ek dit vierdubbeld terug.” Daardie man het werklik dié dag die Here se seën beleef.

Jesus wil vandag by jou ook tuisgaan. Daarmee bedoel ek Hy wil jou hele lewe betrek. Onthou dat Jesus vir jou gesterf het. Al wat jy moet sê, is: “Baie dankie, Here!” Ontvang sy genade en glo dit.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.