Gedagte vir die dag: Geloof te midde van moeilikhede

karoo_vlakte_2stiltetyd.jpeg

Foto: A. Brits

Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.  Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang. Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is,  sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie. (Hebreërs 11:1-3)

God bestuur ’n duur skool: Ons leer lesse deur trane  –  trane van lyding. As jy meer geloof wil  hê, sal ek jou aan die skool van lyding  voorstel. Dit is daar waar geloof gekweek word. Jy leer dit nie wanneer alles goed gaan nie. Jy kan dit juis dan nie leer nie, want jy het nie geloof nodig wanneer alles in jou lewe reg  loop en goed gaan nie.  Dis gewoonlik wanneer dinge begin skeefloop dat ons sê: “Here, help my asseblief” en Hy kom ons dan tot hulp. Dit het met Petrus gebeur. Terwyl hy op die water geloop het, was alles reg, maar toe hy begin sink, het hy uitgeroep: “Jesus, help my”, en die Here het hom onmiddellik uit die water gelig.

’n Man vra my ’n ruk gelede of ek al ooit daaraan gedink het dat Jesus saam met Petrus na die boot toe moes geloop het. Wanneer ons oor hierdie verhaal praat, hou ons altyd daar op waar Jesus Petrus uit die water uitgetrek het. Het jy  al  gedink aan wat daarna gebeur het?  Wel, die Here moes  saam met hom teruggeloop het na die boot of na die strand toe. Hoe dit ook al sy, Jesus het Petrus gered. Hy het hom nie gelos om te verdrink nie. Daardie dag het Petrus se geloof ’n bietjie gegroei.

Al die onderwerpe wat ons hierdie jaar bespreek  het, is daarop gerig om jou te help om die oomblik aan te gryp. Hulle is saamgestel om jou te help om jou geloof uit te lewe sodat jy gereed en goed voorbereid sal wees wanneer die uurglas leegloop. Geloof te midde van lyding en swaarkry, is een van die belangrikste eienskappe wat ’n Christen nodig het. Geloof bring hoop, en jy kan nie hoop hê sonder geloof nie. “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”  (vers 1).

My Vader, ek dank U dat U my nie verlaat wanneer ek nie die mas  opkom nie.  U  is  altyd  daar wanneer  ek na  U roep, net  soos U ook daar was vir Petrus. Ek bid dat U my meer geloof sal gee. Versterk my deur u Gees om ’n lewe te leef wat deur geloof en hoop gekenmerk sal word.  Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.