Geniet dié Geloftedag by die Voortrekkermonument

Geloftedag word op 16 Desember by die Voortrekkermonument gevier. (Foto: verskaf)

Vanjaar word Geloftedag behoorlik by die Voortrekkermonument in Pretoria gevier. Dit is immers die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die Gelofte.

“In 2022 het ons 44 mense vir Geloftedag by die Voortrekkermonument verwag, maar 20 000 het opgedaag, daarom hoop ons hierdie jaar vir 44 000 mense,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Diegene wat op 16 Desember die pad gaan vat Voortrekkermonument toe, se name sal in die monument se argief verewig word. Dié name sal deel van ʼn kosbare tydkapsule vorm, wat in die 200ste herdenkingsjaar afgestof en oopgemaak gaan word.

Om in aanmerking hiervoor te kom, vra die Voortrekkermonument dat elke persoon sy of haar gesinslede vooraf op hierdie webwerf registreer.

“Ons wil vanjaar die grootste, geskiedkundigste Geloftedag by die Voortrekkermonument aanbied, en enige Afrikaner of lid van die publiek sal nie spyt wees om die dag mee te maak nie. Ons gaan die lys van besoekers deel maak van die geskiedenisboeke deurdat ons dit in ons argief gaan bêre, sodat dit in die geskiedenis kan voortleef,” sê Henk Maree, bedryfshoof van die Voortrekkermonument.

Die Gelofte sal elke aand om seweuur in die Lewende Laer by die Voortrekkermonument tydens Gelofteweek afgelê word. (Foto: verskaf)

Die Voortrekkermonument se hekke sal op 16 Desember reeds om 06:00 vir die publiek open. Die samesang skop om 07:00 af, gevolg deur die diens om 08:30. Sien die volledige program vir die dag hier.

Daar sal deur die loop van die dag kosstalletjie beskikbaar wees.

“Om ons te besoek en die Gelofte te herdenk, is ʼn ongelooflike ervaring vir die hele familie,” sê Maree.

Daar sal in aanloop tot die groot Geloftedagvieringe, ʼn hele week se pret en plesier op die Voortrekkermonument se terrein te vinde wees. Gelofteweek vind van 8 tot 16 Desember plaas, en mense word aangemoedig om dié datums neer te pen.

“Dit is die beste Gelofteweek-program wat nog aanmekaar gesit is, wat oud en jonk sal vermaak. Ons nooi mense van naby en ver om hierdie week saam met ons te kom geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.