Gedagte vir die dag: God se onvoorwaardelike verbond

woestyn_klip_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here het vir Abram gesê: Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” (Genesis 12:1-3)

Hoe wonderlik is dit nie om elke oggend op te staan met die wete Jesus het my eerste lief gehad nie. Die wete dat God liefde is, soveel so dat hy ’n onvoorwaardelike verbond van liefde met elkeen van ons, in Abraham, gesluit het. In Genesis vind ons hierdie verbond, maar dit is nie ’n verbond soos ons dit ken nie.

Hierdie verbond of ooreenkoms was nie ’n voorwaardelike of bilaterale verbond nie. ’n Ooreenkoms wat bindend is vir albei partye vir die nakoming daarvan nie. ’n Verbond waarin albei partye ooreenstem om sekere voorwaardes na te kom nie. In so ’n verbond of ooreenkoms word die verbond verbreek as enige van die partye nie hul verantwoordelikhede nakom nie en hoef nie een van die partye dan aan die verwagtinge van die verbond te voldoen nie.

In die brief aan die Romeine, skryf Paulus van sy oortuiging dat daar niks is wat ons van die liefde van Christus Jesus kan skei nie. Die rede hiervoor is dat God ’n onvoorwaardelike of eensydige verbond met ons, in Abraham, deur Christus Jesus gesluit het. In die geval van ’n onvoorwaardelike of eensydige verbond beteken dit dat net een van die twee partye iets moet doen. Niks word van die ander party vereis nie.

God het sy verbond van liefde met homself gesluit. God is gister, vandag en altyd dieselfde. God is liefde. In Christus Jesus het ons hierdie versekering, dat niks ons ooit van die liefde van God kan skei nie. Daar is niks wat jy vandag kan doen om God meer lief vir jou te maak nie. Daar is ook niks wat jy vandag kan doen of gister kon doen om Hom minder lief vir jou te maak nie. Toe jy nog ’n sondaar was, het Jesus jou alreeds liefgehad. Sy genade is vir jou genoeg. Hy het jou lief met ’n onvoorwaardelike ewige liefde.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johan ·

Die dagstukkie is ongelukkig nie korrek nie. God het ‘n baie duidelike voorwaarde: geloof in Jesus Christus, bekering en wedergeboorte. Hy is natuurlik ‘n God van liefde, maar sal ook wraak uitoefen oor almal wat in hulle ongeloof en on-bekering bly volhard.

OW ·

Heeltemal reg Johan.Die skrywer beskryf die een deel en is reg.In Hebreers 10:26 word die ander deel vir ons gegee.Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die Waarheid ontvang het,is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie.Hebreërs 10:26-31 dien dus as waarskuwing teen die sonde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.