Hoe hanteer ek skuldgevoelens oor my verskillende rolle en tydsindeling?

smart-watch-fancycrave-horlosie.jpg

Foto: pixabay.com\fancycrave.jpg

Ons het al in vorige artikels bespreek dat vrouens geweldig baie rolle het om te vervul en dat dit regtig moeilik is om alles te balanseer. Ons raak so maklik oorweldig deur al die verantwoordelikhede en rolle (iets waarvan die Psalmskrywer baie geweet het – meer daaroor later) en dan het skuld so ʼn manier om in te kruip: spandeer ek genoeg tyd saam met my gesin? Doen ek genoeg Bybelstudie? Is my huis in orde? Kry ek genoeg werk gedoen? Is dit wat ek doen goed genoeg? Wat bly oor vir my as ek my alles gee op elke terrein van die lewe?

Ek gaan uit my eie ervaring sê dat sulke skuldgevoelens soms geregverdig is. In my geval het ek só hard gewerk om iets te maak van my studies dat ek my familie en man (toe was hy my kêrel), en veral kerk afgeskeep het en myself boonop siek gewerk het. Toe die migraines begin, het ek besluit: ek is klaar daarmee! My gesondheid en geliefdes, en veral my verhouding met God móés eerste begin kom, dit was belangriker. Aanvanklik was ek bang dat my projekte en punte daaronder sou ly, maar naderhand het ek nie meer soveel getob oor punte nie. Wat maak dit eintlik saak as ek dinge het wat regtig saak maak – liefde en vreugde in God en alles om my? En weet jy, nou het ek ʼn graad en ek is nie ʼn oomblik spyt dat ek my studies “afgeskeep” het vir my familie, vir ʼn weeklikse rusdag in die huis van die Here en vir waardering van die dinge en mense om my nie.

ma-kind-werk-skootrekenaar-pixabay-finelightarts.jpg

Foto: pixabay.com/finelightarts.jpg

Ek besef dat dit nie altyd so maklik is nie – jou huis moet skoon, jy moet eet, jy moet dalk elke dag werk om te probeer uitkom, jy moet na jouself en die mense in jou huis omsien, jy moet ʼn vriendin, suster, ma, dogter, niggie en wat ook al nog wees en dit raak baie. Jy voel skuldig, want maak jy heeldag huis skoon, is jy agter met jou werk, of werk jy heeldag, val jou huis inmekaar. Spandeer jy al jou tyd aan kerklike dinge, word jy netnou afgedank, maar werk jy heeldag is jy so moeg jy kan nie jouself sover kry om jou Bybel oop te maak nie. Die dinge wat gedoen moet word, gaan nooit ophou nie, maar hier is ʼn troos: God gaan ook nooit verander of jou verlaat nie. Hoewel dit in die 21ste eeu nie altyd moontlik of prakties is nie, bly ek van mening dat eenvoud die sleutel is tot ʼn gelukkige en dus skuldvrye lewe. In Spreuke 31 doen die vrou alles wat sy moet en “die brood van luiheid eet sy nie”; jy moet dus bepaal wat moet gedoen word, en wat oortuig jy jouself is nodig? Die lyn is dikwels baie moeilik om te sien.

Die lewe is oorweldigend en ons wil baie keer net vlug, dit is waar: “Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. ’n Onderwysing van Dawid. My hart krimp inmekaar in my binneste, en verskrikkinge van die dood het op my geval. Vrees en bewing kom oor my, en angs oordek my. Toe het ek gesê: Ag, had ek maar vlerke soos ‘n duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly! Kyk, ek sou ver wegvlug; ek sou vernag in die woestyn! Sela” (Psalm 55: 5-8). “Ag, kon ek maar opvrolik in my kommer! My hart is krank in my” (Jeremia 8:18). Moenie moed verloor nie. Psalm 139 is  ʼn pragtige voorbeeld van die wonder wat ons elkeen kan ervaar as ons besef hoe goed en wys die Here is. Die berymde weergawe vanaf vers 4 lui so:

As ek op vleuels die hemel raak,
of diep omlaag my slaapplek maak;
vlieg ek met dagbreekvlerke mee,
of woon ek aan die verste see –
daar is geen afstand wat my skei nie,
dat daar U hand my nie sou lei nie.
Wanneer ek sê: “Die donkerheid
bedek my voor U majesteit,”
dan is die nag ‘n helder lig
wat my ontbloot voor U gesig.
Vir U, HEER, is die nag se duister
net soos die dag in glans en luister.
U’t my geheel en al deurgrond,
selfs voor my eerste lewenstond.
So wonderbaarlik voortgebring,
sal ek verbaas U grootheid sing
as ek aanskou U grootheidsmerke.
Hoe wonderlik is al U werke!

Geskryf deur Indica van Heerden

blomme-veld-vrou-son-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Meer oor die Vroue in Beweging

Doel van die Vroue in Beweging is om vroue in Suid-Afrika te bemagtig om voluit vrou te wees deur om te sien na die werk, welstand en opleiding van die vrou, sodat sy as pilaar van hoop in haar gemeenskap kan optree. ʼn Gemeenskap kan slegs bevorder word as die gemeenskap self intree om die verskil te maak. Dus wil hierdie inisiatief vroue motiveer om ook mekaar se belange op die hart te dra.

Vroue is die hartklop van ons samelewing. Daar is dikwels goed wat in die pad daarvan staan om voluit vrou, meisie, suster, ma en vriendin te wees. Hierdie dinge wat in die pad daarvan staan, kan fisiek, emosioneel en geestelik van aard wees.

Die Vroue in Beweging-inisiatief wil dié gapings tot ‘n beter lewe oorbrug en die kettings van armoede wat dreig om te vernietig, verbreek. Dit sal vroue wat deur hierdie goed gekeer word, bemagtig om as gesonde vroue in die samelewing te kan funksioneer.

Vir meer inligting besoek www.vroueinbeweging.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.