Gedagte vir die dag: Die Hoop wat nie beskaam

sonsopkoms-pad-toekoms-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here:  voorspoed en nie teenspoed nie;  Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting!”  (Jeremia 29:11 – AFR83)

Jesus Christus is ons hoop op heerlikheid. Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat ons Hemelse Vader jou en my so lief gehad het dat Hy sy enigste Seun, Jesus Christus, gegee het om vir ons aan die kruis te sterf, terwyl ons nog sondaars was. Hy het ons eerste lief gehad, sonder dat ons enige iets gedoen het om sy liefde te verdien. In ons Hemelse Vader se groot ontferming het Hy, deur die opstanding van Jesus Christus, aan ons die nuwe lewe geskenk.

En dit is hierdie hoop wat nie beskaam nie, dat God ewig getrou sy liefde in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Ons het ʼn lewende hoop en ʼn blywende troos op ʼn onverganklike erfenis. Ons hoop is nie in ’n miskien nie. Ons hoop is in God se belofte aan ons, sy liefdesverbond met ons.

Daarom moet ons vasgeanker bly in die Woord van God, want die Woord van God is deur die Heilige Gees geïnspireer. Al woed die lewenstorme om jou, staan vas en sterk in jou geloof in Hom. Moenie toelaat dat enige iets jou van daardie hoop wat in jou gewek is, losruk nie. God beloof in sy Woord dat niks jou ooit van sy liefde kan skei nie, jy behoort aan Hom, Hy het jou op jou naam geroep, jy is ewig syne en niks, maar niks, kan jou uit sy hand ruk nie.

Hou goeie moed. Span jouself in en streef kragtig daarna om jou volle Godgegewe potensiaal te bereik. Ons Hemelse Vader laat nooit die wat in Hom glo en op Hom vertrou beskaamd staan nie! 

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here ek laat sak vandag in gebed my geliefde dogter tot by U voete….dankie Here dankie dankie

Peony ·

Dankie Abba, dat ons al ons hoop onbeskaamd in U hande kan plaas! U weet wat U beplan vir ons wat U kinders is, en daarom kan ek hoopvol uitsien na die toekoms…dankie vir hierdie enigste hoop waarop ek onverskrokke kan vasklou! U het nog nooit teleur gestel nie…ek is hoopvol in U!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.