Gedagte vir die dag: Jesus se juk

 man_stap_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

My juk sal sag op julle skouers rus en my las is lig om te dra. (Matteus 11:30)

As ’n boer weet ek hoe belangrik ’n juk is. As jy al ooit met osse of perde geploeg het, sal jy weet hoe belangrik dit is om twee diere te hê wat ewe sterk en ewe groot is om saam te trek. As hulle nie ewe sterk en ewe groot is nie, sal die een vinniger trek as die ander een of ’n swaarder las dra. Dit sal veroorsaak dat die juk hom skaaf en baie ongemak en pyn vir die dier meebring. Uiteindelik sal die twee diere nie meer saam in die juk kan trek nie.

Dit is so belangrik om in ons verhoudings ewe hard te trek. As die een lewensmaat in ’n huwelik ’n swaarder juk as die ander een dra – as die een ’n Christen is en die ander een nie – kan die huwelik nie werk nie. Wanneer twee diere saam in ’n juk trek, moet hulle ook in dieselfde rigting beweeg. Die een dier kan nie na links trek en die ander een na regs nie. Op die ou end sal hulle nêrens kom nie en baie ongemak en pyn verduur. Dieselfde beginsel geld vir die huwelik.

As jy vandag hierdie oordenking lees en van plan is om binnekort te trou, maak seker van een ding: Julle moet ewe sterk onder die juk staan. Een van die grootste foute wat mense maak, is om te dink hulle sal hulle lewensmaat verander en hom of haar na Christus lei as hulle eers getroud is. Ongelukkig gebeur die teenoorgestelde gewoonlik.

Dieselfde beginsel kan op die sakewêreld toegepas word. Jesus sê ons moet ook in ons werksomgewing ewe sterk onder ’n juk werk. Voordat jy ’n vennoot kies, maak seker die persoon is ’n Godvresende mens, dat julle albei bereid is om die Bybel as julle kompas en bron van leiding te gebruik. Dan sal julle onderneming floreer en God sal julle seën.

Vra die Here Jesus Christus om jou juk só te vorm dat jy jou lading met gemak, blydskap en geduld kan dra en daarom seker kan wees jy sal by jou bestemming uitkom.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.