Gedagte vir die dag: Jesus se leringe oor nederigheid

hande_stiltetyd_oud_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word. (Lukas 18:14)

Jesus het dikwels gepraat oor nederigheid. In sy tyd was die godsdienstige leiers nie bekend vir hul nederigheid nie. Hulle het rondgeloop, opgeblase van hul eie heiligheid, en gedink dat hulle beter as ander mense was. Ek wil hê ons moet kortliks na drie voorbeelde kyk waar Jesus nederigheid beklemtoon het. Die eerste een is in Matteus 18. “In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê: Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele?” (vers 1). Toe roep Jesus ’n kindjie na Hom en laat hom in hul midde staan en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele” (vers 2-4).

Selfs in Jesus se dae het die mense mekaar verdring vir status en posisie. In Lukas 14 is Jesus by ’n ete en Hy het gesien hoe die mense mekaar stamp en stoot om die beste sitplekke aan tafel te kry. Hy het met die mense rondom Hom gepraat en gesê: “Wanneer jy deur iemand na ’n bruilof uitgenooi is, moenie die voorste plek inneem nie … gaan en neem die agterste plek in; sodat wanneer hy kom wat jou genooi het, hy vir jou kan sê: Vriend, gaan hoër op! Dan sal jy eer hê voor die wat saam met jou aan die tafel is” (vers 8, 10). Toe loop Hy hulle trompop met die woorde: “Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word” (vers 11).

Daardie dae was daar min mense wat laer aansien gehad het as die tollenaars. Hy het hierdie gelykenis vertel vir die godsdienstige leiers wat op hulle eie regverdigheid vertrou het, en ander mense verag het. “Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie” (Lukas 18:11). Die tollenaar het gebid: “O God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13) Wie dink jy het vrygespreek huis toe gegaan?

My Vader-God, ek kom na U toe in die Naam van Jesus, my Verlosser. Here Jesus, ek dank U dat toe U op hierdie aarde was, U vir my leringe oor nederigheid nagelaat het. Ek vra dat U my sal help om gehoorsaam te wees aan u onderrig. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.