Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied, sing sy lof oor die hele aarde. (Jesaja 42:10)
Om ’n nuwe lied te sing is ’n tema wat van tyd tot tyd opduik in die Bybel. Hier word die leser opgeroep om te jubel omdat God aangekondig het dat Hy sy Dienaar sal stuur – sy Messias. Wat Hy beloof het, het waar geword en wat Hy daarna afkondig, sal ook waar word. Uit die Nuwe Testament weet ons dit het alles waar geword in Jesus Christus.
Ek wil egter iets anders beklemtoon. Die mense – trouens, die hele wêreld – moet sing op grond van die belofte, nie soseer die vervulling nie. God se belofte van redding is so goed soos sy redding; onthou, beide is ewe waar en vas. Dis vir Hom dieselfde saak, maar ons beleef die een net na die ander.
As God vir jou sy redding beloof (en ek verkondig dit vir jou vandag), is dit so goed as dat jy gered is. Aanvaar dit! Nou kan jy maar uitbars in ’n loflied. Besing God se lof! Sit lofmusiek aan, skryf ’n lofgebed, vertel mense jy glo vas dat God uitkoms sal bring. Hy sal.
Dankie, Here, dat ek maar kan glo – en sing! Amen.