Gedagte vir die dag: Klim terug in Jesus se boot

Stiltetyd_Natures-Valley-Boekevat-Foto-Melanie-Schlenter.jpeg

Foto: Melanie Schlenter

Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp. “Jou geloof is maar bitter klein,” sê Hy vir hom. “Waarom vertrou jy My nie?” (Matteus 14:31)

Almal onthou Petrus se water-lopie in Matteus 14. Wanneer hy en die ander dissipels vir Jesus op die water sien, dink hulle Hy is ’n spook. Jesus sê vir hulle om nie bang te wees nie. Dit is regtig Hy. Dan toets Petrus vir Jesus. Sy woorde: “Here, as dit regtig U is … ” klink amper identies soos dié van die duiwel in Matteus 4. Daar sê die duiwel drie keer vir Jesus: “As jy die Seun van God is … ” Toe aanvaar Jesus Petrus se toets. Maar Petrus se water-loop hou nie lank nie. Spoedig verander sy toets in ’n hulpkreet. Nogmaals is Jesus daar. Hy red Petrus uit die water. Hy tel hom terug in die boot waar hy hoort. Aan boord aanbid almal dan vir Jesus.

Hierdie verhaal sê nie dat as jy op water wil loop, jy uit die boot moet klim nie. Dis andersom. Die punt is dat as jy by Jesus wil wees, moet jy terugklim in die boot. Jesus is onderweg na sy dissipels toe. Hy wil aan boord wees by hulle. Nie eens Petrus se toets kry Jesus van hierdie koers af nie. Ook Petrus word teruggeplaas waar hy hoort. Petrus moet aan boord wees waar die dissipels hulle Heer aanbid. Matteus 14 leer dus dat as jy naby die Here wil wees, jy moet sorg dat jy daar is waarheen Hy op pad is. Daar waar Jesus aan boord is, raak die storm stil.

Bron: Gereed vir vandag deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.