Gedagte vir die dag: Ligmaker

sonsondergang_wolke_son_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: 2 Korintiërs 4:5-7

God … het ook in ons harte ’n lig laat skyn … (2 Korintiërs 4:6)

Niks minder nie as ’n skat, sê Paulus. Die lig wat God aangesteek het, wat soveel heerlikheid uitstraal.  Kosbaar, ja, en werk om goed opgepas te word. Ten minste in ’n hemelse kluis, met ‘n leërskare engel om dit te bewaak.

Toe nié.  God het dit dan in ons hart aangesteek, ons verraderlike hart. Hy het dit goedgedink om dit aan ons diepste binneste toe te vertrou.  Óns s’n.

Hoe vreemd!

Ja, sug Paulus, hierdie “kluis” is so broos soos ‘n kleipot. Nooit kan die oppassers hulleself op die skouers klop en sê “welgedaan!” nie.  Die skat is aan die bedenklike bewaring uitgelewer. En niemand minder nie as God self het dit uitdruklik so gewil.  Dit was nie ‘n vergissing  nie.

Daarom sal dit ons, die uitverkorenes, die broses, baat om ‘n oomblik na te dink oor die implikasies van dit alles.  Oor broosheid, ons s’n. Oor kleipotte, ons self. En oor hoe geleidelik, selfs ongemerk, ‘n kleipot begin breek:  eers ‘n krakie hier, dan ‘n stukkie nerfaf daar.  ’n Las, ‘n bars.

Is dit dan die begin van die einde? Wanneer breek die oomblik aan dat God sy kosbare skat uit die hierdie kleipot verwyder? Wanneer sal Hy sy lig wegneem en op ‘n beter plek gaan bewaar?

Of soek ons sy oë op die verkeerde plek? Is dit dan nie Hy wat glimlag wanneer sy lig deur die kleipot se krake skyn nie? Wat tevrede toekyk hoe die krake groter word nie? Hoe helder, hoe fors, die lig, sy lig daardeur bars nie?

Hier is ek in my broosheid, Here! Vir weinig meer tot nut, net vir U en u lig.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae