Gedagte vir die dag: Loof Hom!

prys_God_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 72:18-19

Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word, mag die hele wêreld vol wees van sy majesteit. Amen, ja, amen. (Psalm 72:19)

Nie alle gelowiges voel hulle tuis in ’n uitbundige loof-en-prys- omgewing nie. Vir baie is dit net te raserig, te oneerbiedig, te gefokus op die lofprysers se aksies. Te té …

Vir hulle moet lof grootoog geskied. Sonder groot gebaar, sonder uitroeptekens. Meestal fluisterend. Altyd skuifelend met kaalvoete oor heilige grond. “Prys die Heer” is vir hulle nie noodwendig ’n jubeling nie; dit kom dikwels kreunend uit hul diepste binneste.

Hulle hoor hoe hul meer uitgelate broers en susters sê hul aanbidding is dooierig. Dit kort spiere en sprankel! sê die vrolikes. Jou oë moet blink en jou gemoed moet oorloop! Jy loof immers die Oorwinnaar!

Meestal bly sit hulle, die stilles, dan met ’n mond vol tande. Sonder verweer. Dalk dink hulle: Lof in ’n mineurtoonaard is tog ook lof … Dan nie?

Dit sal alle gelowiges loon om na Psalm 72 se afsluitingswoorde te kyk. Dit is lofwoorde, ja.

Uitbundig, met selfs ’n dubbele “amen”. Daar word woorde soos “verhewe” en “majesteit” gebruik. Die 1933/53-vertaling sê “heerlikheid”. En dié vertaling is vol uitroeptekens.

Hoe ook al: In hierdie psalm is daar sprake van lof wat “vir altyd” duur, wat die “hele wêreld” insluit. Dit is duidelik: Om die Here te wil loof, is ’n groot saak. En nie almal benader sulke groothede op dieselfde manier nie.

Wie kan sê wat is die regte manier? Wie loof die beste?

Ag, tog! Dit is ’n vals vraag wat lasterlike antwoorde ontlok. Dit verskuif die fokus van die Lofwaardige na die lofprysers.

Hoor my as ek U loof, Here! Sien my dankbare hart raak.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Derek ·

Dit is wat ons moet doen, Hom loof en prys vir die wonders wat ons sien gebeur. Vir God die Heilige Gees, die Gees van die waarheid. Loof Hom met die tromme, loof Hom met die harp! Die nuwe wyn!

Yvonne ·

Here U die Hart en GedagteKenner vir U my Here bring ek al die lof en dank en eer wat net U toekom

Hercules ·

*Praise the Lord ! Praise God in his sanctuary; praise him in his mighty heaven! Praise him for his mighty works; praise his unequaled greatness! Praise him with a blast of the ram’s horn; praise him with the lyre and harp! Praise him with the tambourine and dancing; praise him with strings and flutes! Praise him with a clash of cymbals; praise him with loud clanging cymbals. Let everything that breathes sing praises to the Lord ! Praise the Lord ! – Psalms 150:1‭-‬6 NLT

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.