Martin Luther: Die 95 stellinge op 31 Oktober 1517 te Wittenberg, Duitsland

Gestoor. Martin-Luther-Reformasie-500_2.jpg

’n Voorstelling van Martin Luther wat sy 95 stellinge teen Wittenberg se kerkdeur vasspyker. Foto: Pt.aleteia.org

Die FAK het op 31 Oktober 2017, presies 500 jaar na Luther sy 95 stellinge teen Wittenberg se kerkdeur vasgespyker het, die Afrikaanse vertaling uit die oorspronklike Duits beskikbaar gestel. Die vertaling is behartig deur ds. PJ Kriel van die NG gemeente Levubu.

Uit liefde vir die waarheid en met die begeerte om die waarheid openbaar aan die orde te stel, sal daar in Wittenberg oor die volgende stellings gedebatteer word onder die voorsitterskap van die eerwaarde monnik Martinus Luther, met ’n magistergraad in Vrye Kunste (geesteswetenskap) sowel as in die heilige teologie, tans volle professor te Wittenberg. Daarom versoek hy die mense wat nie teenwoordig kan wees en mondelings met ons kan debatteer nie, om dit in hulle afwesigheid skriftelik te doen.

In die Naam van ons Here Jesus Christus.

1. Omdat ons Here en Meester Jesus Christus sê: “Doen boete” (Bekeer julle) (Matt. 4:17) wou Hy gehad het dat die hele lewe van gelowiges ’n lewe van boetedoening (bekering) moet wees.

2. Hierdie woord (bekering)* kan nie in die betekenis van die sakramentele boetedoening verstaan word nie. (Dit is in die sin van bieg en vergoeding wat deur die amp van die priester uitgevoer word.)

3. Nogtans beteken dit (bekering volgens Matt. 4:17), nie slegs ’n innerlike bekering nie. Eintlik is die innerlike bekering niks werd as dit nie uiterlik op baie wyses die afsterwing van die vlees bewerk nie.

4. Dus bly die straf daar, net so lank as wat die vyandskap teen jouself bly. (Dit is die ware innerlike bekering.) Dit beteken dit bly tot die binnegaan in die hemelryk in.

5. Die pous kan en wil geen ander soort straf kwytskeld as die soort straf wat hy volgens sy eie besluit of volgens die kerkreg opgelê het nie.

6. Die pous kan sondeskuld op geen ander manier vergewe as om net te verkondig en te bevestig dat dit deur God vergewe is nie. Die pous kan tog sekerlik net vergewe in die sake waarin hý die reg voorbehou. Minag ’n mens hom hierin, dan bly die (hierdie tipe) skuld vir seker voortbestaan.

7. Eintlik vergewe God nie een se skuld wat hom nie terselfdertyd aan die priester as God se verteenwoordiger geheel en al deemoedig onderwerp nie.

8. Die kerkregtelike boetebepalings is net van toepassing op mense wat lewe. Mense wat gesterf het, mag nie aan kerkregtelike bepalings onderwerp word nie.

9. Die Heilige Gees bewys deur die pous sy goedheid vir ons daarin dat wanneer die pous dekrete uitvaardig, hy elke keer die dood en uiterste noodsaak uitsluit (uit sy regsbevoegdheid uit).

10. ’n Priester wat vir mense wat gesterf het steeds kerkregtelike boetestraf laat voortbestaan tot binne in die vagevuur, tree onkundig en sleg op.

11. Die onkruid – dit is die verandering van kerkregtelike boetedoening in boetestraf tot binne-in die vagevuur – is heel duidelik gesaai gewees omdat die biskoppe aan die slaap was (Matt. 13:25).

12. Vroeër was die kerkregtelike boetedoening nie ná nie maar vóór die opheffing van sondeskuld opgelê, dit is om die opregtheid van die berou te toets.

13. Deur die dood word ’n mens wat sterf van alles vry; ook vir die kerkregtelike bepalings is ’n mens klaar dood en regtens is ’n mens van hierdie bepalings onthef.

14. Die onvolmaakte goedheid of liefde van ’n sterwende mens maak ’n mens bang, en inderdaad is ons meer bang hoe minderwaardiger die goedheid of liefde was.

15. Hierdie vrees en ontsteltenis is alleen genoeg (sonder om van ander dinge nog te praat) om die smart van die vagevuur op te roep, want dit is baie naby aan die verskrikking van wanhoop.

16. Dit lyk asof ’n mens die hel, die vagevuur en die hemel van mekaar kan onderskei net soos wat ’n mens wanhoop, naderende wanhoop en sekerheid van mekaar kan onderskei.

17. Daarom lyk dit noodwendig dat vir die siele in die vagevuur op dieselfde wyse hulle ontsteltenis minder word en hulle liefde groei.

18. Daarom lyk dit ook nie bewysbaar óf deur ons verstand óf deur bewyse uit die Skrif nie, dat hierdie siele hulle buite ’n posisie bevind om verdienste te kan verwerf of nie in die liefde te kan groei nie.

19. Dit lyk ook nie of dit bewys kan word, of ten minste is dit nie vir almal bewese nie, dat hierdie siele van hulle saligheid gewis en seker is, net omdat ons daarvan ten volle seker is.

20. Met die “volkome kwytskelding van alle strawwe” bedoel die pous nie eenvoudig alle strawwe nie, maar hy bedoel net die strawwe wat hy self opgelê het.

21. Daarom fouteer alle aflaatpredikers wat sê deur die aflaat van die pous word die mens vry van alle straf en word ’n mens salig (gered).

22. Dit is veel eerder so dat die pous nie ’n enkele straf waarvolgens die siele tydens hulle lewe wéér boete moes doen volgens kerkordelike bepalings, in die vagevuur kan kwytskeld nie.

23. As aan enigiemand die kwytskelding van alle straf toegestaan kan word, dan kan dit net aan die volmaakste mense toegestaan word en dit is dan net aan ’n baie klein klompie mense.

24. Die onvermydelike gevolgtrekking hieruit is dat die grootste deel van die volk bedrieg word deur hierdie vertonerige belofte van algehele kwytskelding van straf vir almal.

25. Dieselfde gesag wat die pous oor die algemeen oor die vagevuur het, het elke biskop en elke sieleversorger (geestelike werker) in sy eie gebied of in besonder binne sy eie gemeente.

26. Die pous tree regtig reg op wanneer hy die siele (in die vagevuur) vergifnis laat toekom, nie op grond van die sleutelmag nie (die sleutelmag kom nie die pous hiervoor toe nie), maar net by wyse van voorbidding.

27. Mense wat sê: “Wanneer die muntstuk in die geldtrommel klingel, vlieg die siele dadelik uit die vagevuur uit” preek leerstellings van mense.

28. Wat wel seker is, is dat wanneer die muntstuk in die geldtrommel klingel
winsgierigheid en hebsug kan toeneem; die voorbidding van die kerk hang egter slegs van beskikking van God af.

29. Wie weet hoegenaamd of alle siele uit die vagevuur losgekoop wíl word? Met die heilige Severinus en Paskal (volgens vertelling) sou dit nie die geval gewees het nie.

30. Niemand kan van die opregtheid van sy berou seker wees nie, nog minder kan ’n mens seker wees dat jy volkome kwytskelding van sonde verkry het.

31. Net so min as wat daar iemand is wat ’n opregte bekeerde is, net so min is daar iemand wat op die regte manier aflate koop. Dit gebeur uiters selde.

32. Iemand wat glo dat sy saligheid verseker is (gered is) deur aflaatbriewe, is saam met die een wat hom so geleer het, verdoem.

33. ’n Mens moet uiters versigtig wees vir diegene wat sê dat die aflate van die pous die een enkele onskatbare gawe van God is waardeur mense met God versoen word.

34. Want die genade wat deur aflate verkry word, het slegs betrekking op die tipe strawwe wat gaan oor sakramentele genoegdoening en dit is net deur mense vasgestel.

35. Die persone wat leer dat berou hoegenaamd nie nodig is om siele (uit die vagevuur) los te koop of om vergifnis deur bieg te verkry nie, is besig met onchristelike prediking.

36. Elke Christen wat ware berou ervaar, het volkome kwytskelding van straf en skuld ook sonder dat hy ’n aflaatbrief het.

37. Elke Christen, of hy nou leef of reeds dood is, het deel aan al die heilsgawes van Christus en die kerk; God waarborg ’n mens dit ook sonder dat hy aflaatbriewe het.

38. Nogtans moet ’n mens die kwytskelding en vergoeding deur die pous geensins gering ag nie. Omdat dit (soos ek gesê het) die verkondiging van die goddelike vergewing (vergewing deur God) is.

39. Dit is uiters moeilik vir selfs die geleerdste teoloog om die ryke oorvloed van die aflate en die opregtheid van berou vir die volk gelyktydig aan te prys.

40. Opregte berou soek en bemin (omhels) straf. Die oorvloed van die aflate daarteenoor skeld die straf kwyt en veroorsaak ’n teensinnigheid daarteen, of ten minste gee dit aanleiding daartoe.

41. Oor die apostoliese kwytskelding (van die pous) moet met versigtigheid gepreek word, sodat die volk nie verkeerdelik meen dit kry voorkeur bo ander werke – naamlik die goeie werke van die liefde nie.

42. ’n Mens moet Christene leer dat dit nie die oortuiging van die pous is dat die koop van aflaatbriewe in enige opsig met barmhartigheidswerk gelykgestel kan word nie.

43. ’n Mens moet Christene leer dat dit beter is om aan armes iets te gee of aan behoeftiges iets te leen as om aflaatbriewe te koop.

44. Want deur ’n liefdesdaad groei liefde en word die mens beter; deur aflate daarteenoor word die mens nie beter nie, maar net vryer van straf.

45. ’n Mens moet Christene leer: wie ’n behoeftige sien en hom nie sy nood aantrek nie, maar in plaas daarvan aflate koop, verkry nie die kwytskelding van die pous nie, maar ontvang die toorn van God.

46. ’n Mens moet Christene leer: as hulle nie baie geld het nie, is hulle verplig om dit vir die noodsaaklike huishouding uit te hou en op geen manier mag hulle dit op aflate mors nie.

47. ’n Mens moet Christene leer: die koop van aflate is vrywillig, nie verpligtend nie.

48. ’n Mens moet Christene leer: die pous het dit baie meer nodig, en wens ook dat daar ernstig vir hom voorbidding gedoen sal word met die toestaan van aflate, as wat hy die gerief van inkomste nodig het.

49. ’n Mens moet Christene leer: die aflate van die pous is nuttig as jy nie jou vertroue daarin stel nie, maar dit is uiters skadelik as ’n mens as gevolg van aflate jou ontsag vir God verloor.

50. ’n Mens moet Christene leer: as die pous sou geweet het hoe die aflaatpredikers die geld invorder, sou hy liewer die Sint Pieterskerk tot as laat verval het, as om dit met die vel, vleis en bene van sy skape te gebou het.

51. ’n Mens moet die Christene leer: die pous sal, omdat dit sy plig is, bereid wees om van sy rykdomme af te staan aan – en as dit nodig is selfs die Sint Pieterskerk te verkoop – diegene wat nou in groot getalle van hulle geld deur aflaatpredikers afgerokkel word.

52. Die vertroue om deur aflaatbriewe gesalig (gered) te word, is tevergeefs, selfs al gee die aflaatkommissaris, ja, selfs die pous hulle siele as waarborg daarvoor.

53. Hulle wat reël dat die Woord van God in ander kerke (in ander gemeentes) heeltemal stil moet word (glad nie gepreek mag word nie) ter wille van die aflaatprediking (in ’n ander gemeente) is vyande van Christus en die pous.

54. Die Woord van God word beledig as in een en dieselfde preek vir die aflaat dieselfde of meer tyd ingeruim word as vir die Woord van God.

55. Dit is onvermydelik dat dit die pous se oortuiging moet wees dat as ’n mens die aflaat (wat die onbelangrikste is) met ’n klok, ’n optog en ’n erediens vier, ’n mens die Evangelie (wat die belangrikste is) met ’n honderd klokke, ’n honderd optogte en ’n honderd eredienste sal vier.

56. Die skat van die kerk waaruit die pous die aflaat uitdeel, is vir die volk van Christus nie bekend of nie presies voldoende duidelik of bekend nie.

57. Dit is heel duidelik nie aardse skatte nie, want dit deel predikers nie so vrygewig uit nie, maar hulle gaar dit eerder net op.

58. Dit kan ook nie die verdienste van Christus en die heiliges wees nie, want dit bewerk sonder die pous altyd genade vir die innerlike mense soos wat dit kruisiging, dood en hel bewerk vir die uiterlike mense.

59. Die heilige Laurentus dui die armes as die skat van die kerk aan, maar hy praat maar net volgens die taalgebruik van sy tyd.

60. Ons dui met volle oortuiging hierdie skat aan as die sleutelmag van die kerk. (Hierdie skat is aan die kerk geskenk deur Christus se verdienste.)

61. Dit is egter duidelik dat vir die kwytskelding van strawwe en met die gevalle waarin die pous die reg voorbehou, die vryspraak van die pous alleen genoegsaam is.

62. Die ware skat van die kerk is die hoogheilige Evangelie van die heerlikheid en genade van God.

63. Hierdie skat is met goeie rede uiters gehaat, omdat dit van dít wat die eerste is die laaste maak (Matt. 20:16).

64. Die skat van die aflaat is daarteenoor met goeie rede uiters geliefd, omdat dit van dít wat die laaste is, die eerste maak.

65. Daarvolgens is die skat van die Evangelie die net waarmee ’n mens voorheen kosbare mense mee gevang het.

66. Die skat van die aflaat daarenteen is die net waarmee ’n mens vandag die rykdomme van mense vang.

67. Die aflaat wat die predikers as die hoogste genade uitbasuin, kan inderdaad as sulks aangesien word, in sover dit geldelike wins bevorder.

68. Tog is dit in der waarheid, gemeet aan die genade van God en die barmhartigheid van die kruis, die onbelangrikste.

69. Dit is verpligtend om die biskoppe, sieleversorgers (geestelike werkers) en die kommissarisse van die apostoliese aflaat alle eerbied te betoon.

70. Hulle is egter nog meer verplig om hulle oë gevestig en ore gespits te hou dat hulle nie hulle eie waanbeelde preek in plaas van die opdragte van die pous nie.

71. Wie teen die waarheid van die apostoliese aflaat (die evangelie) iets sê, is verdoem en vervloek.

72. Wie egter die willekeur en die onbeheerstheid van die toesprake van aflaatpredikers uitjou, is geseën.

73. Soos wat die pous tereg die banvloek slinger teen hulle wat allerlei kunsstreke tot nadeel van die aflaathandel uithaal,

74. net so wil hy nog veel meer hulle met die banvloek tref wat onder die voorwendsel van die aflate die heilige liefde en waarheid benadeel.

75. Om te dink dat die pouslike aflaat so werk dat dit ’n mens ook sou kon kwytskeld wanneer ’n mens – om die onmoontlike te stel – die moeder van God verkrag het – is kranksinnigheid.

76. Ons stel daarteenoor: die pouslike aflaat kan nou eenmaal nie die geringste een van die toelaatbare sondes uitwis wat die skuld van sonde betref nie.

77. Dat ’n mens sê dat ook die heilige Petrus kon, as hy nou die pous sou wees, geen groter genade uitdeel (as aflate) nie, is lastering teen die heilige Petrus en die pous.

78. Ons stel daarteenoor: die huidige en elke ander pous het groter genade, naamlik die Evangelie, die charismatiese gawes, die gawe van genesing, ensovoorts, soos dit in 1 Korintiërs 12:28 aangetoon word.

79. Die bewering dat die aflaatkruis wat hoog opgestel is, versier met die pouslike embleem, dieselfde krag as die kruis van Christus besit, is godslasterlik.

80. Die biskoppe, sieleversorgers en teoloë wat sulke leringe vir die volk toelaat, sal eendag rekenskap moet gee.

81. Sulke roekelose aflaatprediking maak dit vir selfs geleerde mense nie maklik om die nodige eerbied vir die pous te verdedig of dan ten minste die pous teen die venynige vrae van die gewone lidmate te verdedig nie.

82. Hulle vra byvoorbeeld: Hoekom maak die pous nie die vagevuur uit heilige liefde en ter wille van die hoogste nood van die siele leeg nie? Dit is tog die mees gegronde rede! Dit terwyl hy tog ontelbaar baie siele ter wille van onheilige geld verlos wat vir die bou van die Sint Pieterskerk gegee word. Dit is as sodanig tog die mees ongegronde rede!

83. Verder: Waarom word Nagmaalsviering vir die dooies en die kerklike feesdae vir die afgestorwenes steeds onderhou, en waarom gee hy nie die spesifieke skenkings daarvoor terug nie, dit wil sê, laat hy die teruggee toe nie, wanneer dit tog verkeerd is om vir siele wat uit die vagevuur verlos is nog verder te bid?

84. Verder: Watse nuwe tipe barmhartigheid van God en die pous is dit wat goddeloses en mense wat God vyandiggesind is, toelaat om vir geld ’n vroom siel vir wie God liefhet te verlos, maar wat hierdie vroom en geliefde siel nie omrede hulle eie nood uit vry geskenkte liefde verlos nie?

85. Verder: Waarom word die kerkregtelik boetebepalings, wat saaklik en deur ongebruik lankal reeds ongeldig en dood is, nogtans deur die toestaan van aflate met geld afgelos, asof hierdie boetebepalings wesenlik nog geldig is?

86. Verder: Waarom bou die pous, wat vandag ryker is as die rykste miljoenêr (Crassus), nie liewer ten minste een deel van die Sint Pieterskerk met sy eie geld eerder as met die geld van arm gelowiges nie?

87. Verder: Wat skeld die pous diegene vry of waaraan gee hy hulle aandeel aan wat deur volkome berou aanspraak het op volle vergifnis en volle vergoeding (deur God het)?

88. Verder: Sou dit nie die beste vir die kerk gewees het as die pous, soos hy dit eens op ’n tyd gedoen het, honderd keer op ’n dag elke gelowige kwytskelding en vergoeding waarborg nie?

89. As dit tog vir die pous met aflate meer om die heil van die siele gaan as om geld, waarom verklaar hy vroeëre briewe en aflate ongeldig hoewel hulle tog net so effektief was?

90. Om hierdie uiters pynlike besware van die gewone lidmate net met geweld te onderdruk, maar nie met gegronde inligting uit die weg te ruim nie, beteken die kerk en die pous word aan die bespotting van die vyande uitgelewer en Christene word ongelukkig gemaak.

91. As die aflaat daarom in die gees en bedoeling van die pous gepreek word, sal hierdie besware maklik weerlê word, ja, hierdie besware sal glad nie eens gestel word nie.

92. Weg daarom met al die profete wat vir die volk van Christus sê: “Vrede, vrede” en daar is geen vrede nie (Jer. 6:14).

93. Salig is al die profete wat vir die volk van Christus sê: Kruis, kruis, ook as daar van die kruis niks te merk is nie.

94. ’n Mens moet die Christene vermaan dat hulle Christus, hul hoof, deur lyding, dood en hel moet probeer navolg.

95. En om nog meer daarop te vertrou om eerder deur baie beproewinge in die hemel in te gaan as deur die sekerheid van ’n skynvrede.

Toeligting

Die aanhalings wat skuinsgedruk is, is ter verduideliking ingevoeg deur die vertaler, ds. PJ Kriel. Die aanhalings wat nie skuinsgedruk is nie, is Martin Luther se eie toeligting. Vertaal deur ds. PJ Kriel (06.01.2008).

’n Verduideliking van die betekenis van die 95 stellinge deur Karin Bornkamm in die versameling Ausgewählte Schriften wat heruitgegee is deur Karin Bornkamm en Gerhard Ebeling (bl. 26, 27):

“Op die 31ste Oktober 1517, aan die datum moet ’n mens vashou ten spyte van die nuwerwetse polemiek, het Martin Luther ’n kennisgewing met 95 stellinge aan die deur van die kasteelkerk van Wittenberg opgesit. Hy wou, soos dit toe die gebruik was, aan die kennisgewingbord van die universiteit (die deur van die kasteelkerk) ’n akademiese bespreking uitroep.

“Niemand het opgedaag nie. Die stellinge het egter vinnig bekend geword, dit is in Duits vertaal, herdruk en het in stormagtige haas die hele Duitsland ‘deurkruis’. Meteens was die onbekende monnik en professor in die afgeleë Wittenberg op almal se lippe.

“Die Roomse kardinaleraad het, nadat hulle op Luther bedag gemaak is, met die aanvoorwerk van ’n kettervervolgingsproses teen Luther begin.

“Die rede vir Luther se openbare stellinginname in die aflaatvraagstuk waarin hy self nog geen finale mening gestel het nie, was die verkoop van ’n nuwe tipe pouslike aflaat vir die bou van die Sint Pieterskerk in Rome in die gesamentlike gebied van Mainz en Maagdenburg van die aartsbiskop, asook die gebied Brandenburg.

“Die uitwerking van die verkoop van die aflate in hierdie gebiede het Luther mee te doen gekry tydens die bieggeleenthede wat hy as priester waargeneem het. Die finale strooi was die instruksie wat die aartsbiskop en keurvors, Albrecht van Mainz, toegelaat het wat nog erger was as die amptelike kerklike aflaatleer.

“Boetedoening het uit die Middeleeuse biegpraktyk en lering oor die bieg ontwikkel tot een van die sewe sakramente van die kerk.

“Boetedoening behels die berou in die hart, die erkenning van sonde by ’n priester, wat deur die toesegging van vergifnis van sonde deur die priester gevolg is en opgevolg moes word deur die vergoeding vir sonde deur goeie werke.

“Deur die toesegging van vergifnis deur die priester word die sondaar sy skuld vergewe asook van die ewige goddelike straf in die hel onthef. Deur die vergoeding moes die sondaar die tydelike strawwe van God of die kerk voor vergoed, eers in die aardse lewe maar die res wat nie voor genoegdoening voor bewerk was nie, moes in die vagevuur voor vergoed word.

“Aflaat was die moontlikheid om die vergoeding wat eers opgelê was as boetedoening deur ligter vergoedings te vervang, in die laat Middeleeue dan selfs deur betaling met geld. En dan ook nie meer net vir jouself nie, maar ook vir afgestorwenes wat binne-in die vagevuur was.

“Met hierdie instelling het die kerk veral in Duitsland vir hulle ’n onuitputlike bron van inkomste geskep.

“Luther se stellinge spreek die misbruik van die aflaatstelsel aan, maar die stellinge is eintlik gemik op die kern van die boetedoenings en aflaatleer self. Luther het nog met die opstel van hierdie stellinge geglo dat hy die pous met die vernedering van die aflaatpraktyk kon uithelp.

“Met die stellinge het Luther nog vasgehou aan die noodwendigheid van die Absolusie, die toesegging van vergifnis deur die priester, al was dit nou nie meer soseer deur die bemiddeling van die priester nie, maar deur die verkondiging van vergifnis deur die priester.

“Die geloof in die vagevuur het hy mettertyd bevraagteken.

“Nogtans het hy reeds deur die 95 stellinge die boetedoening uit die mag van die sakramentele en hiërargiese mag van die kerk bevry deur dit weer in die persoonlike verhouding van die enkeling met God toe te wys.”

 

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers, Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Gerda ·

Dit is baie hartseer dat die hele wereld weer agter die pous en die hele Rooms Katolieke kerk aanloop. Almal het vergeet waaroor die hervorming was. Deur die ekumeniese beweging sluit al die protestante kerke weer by die katolieke kerk aan saam met ander nie-christelike gelowe. Die hervormers het die katolieke kerk baie duidelik as die antichris identifiseer volgens die profesiee in Daniel en Openbaring, maar 500 jaar later het die hele wereld dit vergeet. Openbaring 13:3 “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan.”

Eish ·

Ek lees so deur Luther se beware en die vraag skiet by my op hoe het die Romeine dit in die eerste plek reggekry om die Christelike godsdiens soos deur die apostels gepredik en geleef te skaak. Wanneer jy die geskiedenis probeer navorsing is daar eenvoudig n sluier oor die 200 jaar na die apostels. Die skaking van die Christelike leer het duidelik ongewenste veranderinge meegebring wat n wegbreek genoodsaak het. Die Sabbat en al die heilige dae en feeste is verander en vervang met goed wat waaragtig nie in die Woord is nie.

Merkur ·

´n Wonderlike rebel en natuurlik geen heilige nie.

Martin Luther: Eie gewete is meer betroubaar oor wat reg of verkeerd is as instansies van buite of van gesaghebbendes.

Merkur ·

´n Mens se eie gewete is meer betroubaar oor wat reg of verkeerd is as instansies van buite of van gesaghebbendes.

Eish ·

Die vraag wat n mens jouself moet afvra, is waarom het die Rooms Katolieke kerk so n knellende houvas op die Christendom gekry het, synde hul die Romeine, die onderdrukkers was die tyd van ons Messias. Wanneer jy die geskiedenis nagaan, is dit eenvoudig asof daar n gordyn getrek word oor die Christendom se verloop vir 200 jaar na die apostels.

Wat dan skielik verskyn, is ligjare verwyderd van die Christelike leefwyse soos deur die apostels geleef en gepredik.

Konstantyn, die Romeinse keiser ondergaan n beweerde bekering toe n kruis in n droom aan hom verskyn en oorheers die godsdienstige toneel van rondom 320NC. Hy is voorsitter van die biskopperaad en hier word goed saamgeflans wat nie alle Christene mee saamgaan nie. Byvoorbeeld die vier van Pasga se verskuiwing, die Sabbatdag se verskuiwing deur Konstantyn na due eerbiedwaardige dag van die Son. ( Konstantyn was n sonaanbidder) Dan ook die Heilige dae en fees te van Levitikus 23. Beraad van Nicea 321NC.

Deur absolute wrede vervolging vir diegene wat die
verandering teengestaan het, het sekerlik die ware kerk die wêreld oor verdryf.

Wat die protestante kerke dus mee sit, is n wegbreek van die Rooms Katolieke en hul geldhonger, maar steeds nie die leefwyse soos deur die apostels gepredik en geleef nie.

Hein ·

Wanneer ‘n mens die 95 stellinge onder die loep neem, is dit baie duidelik dat Luther en Calvyn BAIE in gemeen gehad het!
Ons het die Woord van God in ons eie taal – ‘n baie goeie rede om ons dank teenoor ons Here te betuig vir mense soos Luther.
Sola Scriptura – slegs die Woord van God; Sola Gratia – slegs genade; Sola fide – slegs geloof; Solo Christo – deur Christus alleen; Soli Deo Gloria: Aan God alleen al die eer!

Eish ·

Tot jy Luther se ander kant bestudeer, byvoorbeeld sy houding teenoor Jode.

Eish ·

Dis n plek waar jy gelofte word van sonde voor jy hemel toe kan gaan. Rooms van oorsprong.

Dries ·

Laat ons in kinderlikke vertroue by die suiwer waarheid van die Evangelie hou!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.