Gedagte vir die dag: Met God se goedkeuring

Foto: sweetlouise/pixabay.com

Soos die Skrif dit stel: “Die persoon wat graag wil spog, mag net spog oor wat die Here vir hom gedoen het.” (1 Korintiërs 1:31)    

Dit is ’n jammerte dat daar min mense is wat sonder enige huiwering kan verklaar dat die meeste van hul drome verwesenlik is. Hulle het nooit vervulling in hul beroep gehad nie, nooit daardie blitsverkoper gepubliseer nie, nooit provinsiale kleure in sport ontvang, leer klavier speel of skilderklasse bygewoon nie. In werklikheid was die moontlikhede daar, maar hulle het nie ’n begeesterde poging aangewend om deur die obstruksie van middelmatigheid of inhiberende denke te breek nie. Die verskil wat “Ek kán!” teenoor “Ek moet maar aanvaar dat ek nie die talent het nie” kan maak, kan wêrelde versit.

Volgens die bekende kreatiewe denker professor Paul Torrance, wat aan die Georgia-universiteit in Amerika verbonde was, is uitblinkers dié wat nie hul kreatiewe denke verloor het nie of dit later herontdek het. Hulle het dus deur die sleurgang van die lewe en geykte denkpatrone gebreek.

God, die Vader van kreatiewe denke en skeppendheid, word nêrens aangehaal dat Hy ons vermaan om binne die skuiling van middelmatigheid te bly nie. Inteendeel. Gevolglik kan ons veel meer vermag as die grense wat ons (en die omgewing waarin ons ons bevind) vir ons neergelê het. Kyk maar net in gedeeltes soos 1 Korintiërs 1 wat eenvoudige mense – deur God gelei – vermag het.

Terselfdertyd eindig dié gedeelte met ’n baie belangrike stelling: As jy graag wil spog met wat vermag is, kan jy maar – mits dit is oor wat God vir jou gedoen het.

Bron: God is hier! deur Johann van Zyl
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.