Gedagte vir die dag:  Met my hele hart

prys_God_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 138

Ek wil U met my hele hart loof. (Psalm 138:1)

Dit is nou maar een ding van die Bybel se psalmdigters: Wanneer hulle bly is, sit hulle die noot hoog in! Hemelhoog: Die vreugde is ongekend, die triomf bulderend. Die dankbaarheidsvuur brand met ’n onbeskryflike gloed.

Maar is hulle in hul uitbundigheid nie ook soms geneig om effens te oordryf nie? Hoor dan hier: “Al die konings van die aarde sal U loof, Here … hulle sal sing oor wat die Here gedoen het …” (v. 4-5).

Ál die aarde se konings? Wat oor dié psalmdigter se Here sing?

Stadig oor die klippe …

En asof dit nie onwaarskynlik genoeg is nie, hoor ’n bietjie hier- die vaste oortuiging: “Ja, al is die Here hoog verhewe, Hy gee om vir die nederige, maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige” (v. 6). Natuurlik is die digter daarvan oortuig dat hý aan die goeie se ontvangkant is en dat sy vyande die slegste daarvan sal afkom.

Wat gebeur regtig hier? En, belangrik, hoe reageer ons hierop? Staan ons bloot verleë voor soveel uitgelatenheid, luister hoflik totdat die lofbetuiging klaar is, en sit dan ons sukkelgang deur die lewe se werklikhede voort? Sug oor die naïwiteit van ’n ou tyd? En indien ’n ou gelukkie ons so af en toe tref, prewel ons miskien ’n dankgebedjie en voeg dalk binnensmonds iets by soos “die Here sorg darem soms …”

Hoe is dit met die Here se kinders dat heelhartige lof vir ons ’n vreemde verskynsel geword het? Dat lofliedere ons dikwels irriteer en dat ons die God-is-goed-getuienisse as “oordrewe” bestempel? Hoe lank sal ons voortgaan om so klein te dink oor God? Hom bly geringskat?

Verlos my tog, Here, van my beperkte denke. Gee vleuels aan my kortsigtige gedagtes oor U.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here U My God is soveel meer as wat ek met my beperkte verstand verstaan…..saam met die Ps digter juig en jubel ek oor U grootheid….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.