Gedagte vir die dag:  ’n Brug, nie ’n gat nie    

see_brug_sonsondergang_stiltetyd_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Laat die onheil wat my teëstanders beplan, op hulleself neerkom. U is getrou: vernietig hulle. (Psalm 54:7)

Hier kry ons weereens die Bybelse beginsel wat ons “saai en maai” noem: Soos jy doen, sal weer aan jou gedoen word. Alhoewel Dawid se gebed dat God sy vyande moet vernietig vir ons vreemd klink, pas dit ook by hierdie beginsel in – as ons dit reg verstaan. Let wel dat dit die vyande se eie onheil is wat na hulle terugkeer. Dit gaan nie oor ’n God wat gedagtes van onheil koester nie, maar oor mense se eie onheil.

Sonde se gevolge is deel van die sonde, soos ’n skaduwee – en soms hang sy skaduwee oor jou lank nadat die sonde al verby is. God laat dit toe – soos Hy sedert Adam en Eva toelaat dat ons sondig én dan die vrugte daarvan pluk. As jy gate vir ander grawe, is daar gate om jou, en die kans is goed dat jý daarin val. Moet dus nie vir ander gate grawe nie. Bou eerder brûe vir ander – dan kan dit jóú ook na ’n beter plek oorbring.

Here, help my om ander te seën met geloof, liefde, vrede en vreugde. Op ’n ander dag sal ek dit self weer benodig. Amen.

Bron: Hou vas aan die Hoop deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.