Gedagte vir die dag: Om reg stil te bly vir die waarheid

leeu-dafranzos-stiltetyd.jpg

Foto: dafranzos/pixabay.com

Ek sal soos ’n herder wees wat na sy verstrooide kudde kyk. Ek sal my skape vind en red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker dag van oordeel. (Esegiël 34:12)

Die Joodse Talmoed, waarin al die ou Joodse leringe en tradisies saamgevat word, vertel hoe die beroemde rabbi Kahana II ’n keer uit Babilon in Israel aangekom het. Dadelik het hy in die gesogte eerste ry van die Joodse akademie van rabbi Jochanan ’n sitplek gekry. Maar hy wou nie aan enige van die rabbi’s se debatte deelneem nie. Toe is rabbi Kahana algaande van ry tot ry terugskuif totdat hy uiteindelik in die heel laaste ry geëindig het. Rabbi Jochanan het toe vir die mense gesê dat daar ’n leeu in sy klas aangekom het, maar dat Kahana as ’n nietige jakkals geëindig het. Hierdie opmerking het allerlei verdere nadraaie gehad wat rabbi Kahana uiteindelik laat seëvier het.

Sommige mense is lief vir godsdienstige geskille en debatte. As jy nie saam met hulle opstaan nie, skuif jy terug. Dan word jy as ’n lafaard of ’n draadsitter uitgekryt. Tog skryf Paulus vir Timoteus dat ons nie in twisvrae en debatte betrokke moet raak nie. Stilbly vir die waarheid is soms presies die regte ding om te doen. Dit is soms die regte antwoord. God se waarheid is ’n leeu. Dit is groter en sterker as ons. Ons veg nie hiervoor nie, ons verkondig dit en leef dit. Selfs al bly ons  soms stil om God se vrede te bewaar, sal die Here se Gees instaan vir sy waarheid. Hy is die verdediger hiervan, en ons is die verkondigers en getuies daarvan.

Bron: Gereed vir vandag deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

‘n Storie uit die Talmud om ons te leer? Wat van die regte Bybel? Wat wil ds sê? Christene moet maar stilbly en saam doen. Die Waarheid sal wel seëvier. Die Hervormers wat die Katolieke Kerk verlaat het was dus verkeerd; hulle moes maar stilgebly het. As mense gode aanbid moet ons maar saam doen? Wat glo ons dan? Die Bybel sê mens moet bereid wees om vir jou Chistelike geloof te sterf.

Cheryl ·

Annie stem 100% saam. Dis van stilbly dat die kerke is waar hulle is, geen antwoorde vir vandag se kwelvrae nie. Louwarm en tandloos. Ons leef in die kerk van Laodicea.

OW ·

Ek dink nie jy het Stephan sê skrywe aandagtig gelees en bestudeer nie.Nêrens praat hy dat Christene moet stil bly en saamdoen nie.Nêrens praat hy van mense wat gode aanbid en Christene moet maar saamdoen nie.Let wel,stilbly vir die waarheid is SOMS presies die regte ding om te doen.Lees Paulus sê twee sendbriewe aan Timoteus en jy sal dit beter verstaan.

Delia ·

OW, ek stem saam met jou. Soms is ons as Christene so REG vir geskille en debatte en argumente dat ons mense wegdryf van God af. Ons, met die balk in ons eie oog, veroordeel so maklik. Laar jou doen en late, jou gedrag vir God getuig. Want soms bely ons met ons mond, maar met daai selfde mond veroordeel ons heeldag ons naaste

Hetta ·

In Handelinge 4 word die apostels deur die Joodse Raad aangesê om stil te bly – hulle weier en sê dat hulle liewer aan God gehoorsaam wil wees. Wat is mense se MOTIEF om stil te bly vir die waarheid? Is daar “kostes” aan verbonde? Die apostels bly nie stil nie, ongeag die “koste”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.